Ouma, kleinkind op plaas aangeval

Argieffoto: Lorraine Claasen

Die polisie het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na vier verdagtes wat ʼn bejaarde vrou en haar kleinkind Dinsdagaand op ʼn plaas buite Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, aangeval het.

Kapt. Mavela Masondo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê vier onbekende mans het die vrou en haar kleindogter, vermoedelik nege jaar oud, omstreeks 23:00 oorval.

“Twee van die plaasaanvallers was gewapen en het gedreig om die vrou en haar kleinkind dood te maak. Die verdagtes het die vrou se sleutels en ʼn selfoon gegryp voordat hulle op die vlug geslaan het,” het Masondo gesê.

Volgens ʼn bron het die verdagtes glo toegang tot die huis verkry deur ʼn kombuisvenster te breek. Die vrou het ʼn paniekknoppie om haar nek gehad en dit gedruk toe sy die glas hoor breek het. ʼn Alarm het afgegaan en die verdagtes verwilder.

Veiligheidspersoneel van Golf Echo Response was spoedig op die toneel en het die slagoffers bygestaan. Die vrou is glo tydens die voorval met ʼn vuurwapen oor die kop geslaan.

Die Bronkhorstspruit-polisie ondersoek die voorval. Niemand is nog in verband met die saak in hegtenis geneem nie.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom as hulle weet waar die verdagtes hulle mag bevind.

Kol. Sandy Scheltens, stasiebevelvoerder van die Bronkhorstspruit-polisie, het die publiek aangemoedig om by buurtwagte aan te sluit en saam met die polisie te werk om inwoners te beveilig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marianne ·

Dankie Here die ouma en kind is nie vermoor nie. innige denke ouma, dit het jul lewens gered.

gelykheid? ·

Indien die verdagtes OOIT gevang word, Sal ek dit waardeur as die saak voor die regter wat die doodskis saak van Theo Martens en Willem Oosthuizen verhoor het, verskyn. Dis die enigste manier wat ons (die publiek) sal he om te sien hoe regverdig die agbare regter is.
Eintlik moet ons almal daarop aandring om te regter te vra om die saak te verhoor.

Skokkend ·

En die wereld gaan aan oor ‘n ANC lid wat ‘n BLF lid geskop het voor die Luthuli huis maar hierdie arme ouma en kleinkind wat aangeval is se saak gaan stil stil verdwyn ..

Trish ·

Hoe het hulle die mense nog steeds aangerand? Is hulle verwilder deur alarm? Vrou het die paniekknoppie gedruk toe glas breek. Veestaan nie mooi wanneer die aanranding plaasgevind het nie.

Albaster ·

Dis die laagste van laag om kinders en bejaardes te teiken, watse tipe mense doen dit??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.