WAARSKUWING: Dié berig bevat inhoud wat sommige lesers kan ontstel en is nie geskik vir kinders nie.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein sê hy probeer alles moontlik om die lewe van ʼn hond te red wat hy kort ná Nuwejaar op Winburg in die Vrystaat gered het.
Die DBV sê hy is geweldig besig dié tyd van die jaar en kry daagliks tientalle oproepe oor diere in nood, maar voel steeds of hulle die hond, wat nou Brody gedoop is, “in die steek gelaat het”.
“Die Bloemfontein-DBV het ʼn oproep van ʼn ouma gekry wat gesê het sy het drie kinders van omtrent tien jaar oud gesien wat ʼn hond vasgedruk en klappers in sy ore probeer druk het.
“Die ouma het die kinders probeer jaag, maar weens haar ouderdom kon sy hulle nie inhaal nie. Sy het geskreeu terwyl sy gesien het hoe ʼn klapper in Brody se oor gedruk is,” het die organisasie gesê.
Die vrou het desperaat begin huil toe die kinders eers klappers na Brody gegooi het en toe ʼn vuurwerk in sy oor gesit het. Sy het ʼn klapgeluid gehoor en Brody gehoor tjank, terwyl die kinders gelag het.
Die DBV sê hy het die oproep van die vrou kort na 05:00 gekry. Sy het gesê die kinders het weggehardloop en die hond was spoorloos.
Die DBV het beamptes na Winburg gestuur en ʼn groot soektog in die omgewing is na die dier begin. “Ons het ure lank gestap om Brody te probeer vind, maar hy was skoonveld.”
Drie dae later het die DBV wéér ʼn oproep gekry, dié keer van ʼn inwoner wat ʼn hondjie in ʼn mangat gekry het. Die hond was ernstig beseer en sy oor bykans afgeruk.
Beamptes is inderhaas terug na Winburg en die vrou wat aanvanklik die oproep gemaak het, het die dier as dieselfde hondjie uitgeken wat sy vroeër gesien het. “Sy het begin huil.”
Die DBV sê Brody was vreesbevange en ernstig beseer. Hy wou ook nie toelaat dat mense aan hom raak nie. “Net die tyd sal leer of Brody weer ʼn mens gaan vertrou.”
Daar was skroeimerke aan Brody se hare, ʼn aanduiding dat hy gebrand het, maar die klappers het minstens nie ʼn breinbesering veroorsaak nie. Hy sukkel tans steeds met ʼn ernstige infeksie en moet dringend ʼn operasie ondergaan om sy lewe te red.
“Dit is moeilik om te dink dat kinders so wreed kan wees, veral op so ʼn jong ouderdom,” ‘het die DBV gesê.
Die organisasie sê hy besef terdeë Januarie is finansieel ʼn moeilike maand vir baie mense, maar dat die DBV dringend geld benodig om Brody te help. Die koste van die operasie gaan nagenoeg R10 000 beloop.
Om ʼn bydrae te lewer, besoek die Bloemfontein-DBV se webblad by www.bloemfonteinspca.co.za of stuur ʼn SMS met die woord Bloemspca na 42646. Elke SMS kos R30.
Die bankbesonderhede is:
Bank: ABSA
Rekeningnaam: BFN Society for the Prevention of Cruelty to Animals
Rekeningnommer: 927 910 2644
Takkode: 632 005
Verwysing: Brody
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
42 Kommentare
Daar moet n algehele verbod op klappers geplaas word.Dit moet dieselfde as die wet op plofstof wees.
Ek het trane soos Ek gelees het….
Ek wens orals moet die verdomde klappers verbied word….
En sulke kinders is nie normaal nie
Op tienjarige ouderdom reeds so wreed en boos? Vader, behoede ons!
Ghandi het gesê dat hoe ‘n mens ‘n dier behandel dit wys in die moraliteit van die land. Sulke kinders gaan gewoonlik as ernstige misdadigers uitdraai soos hul ouer word na sulke wrede dieremishandeling. En dit is die in-ding in Suid Afrika van vandag.
Verbeteringskool toe! Wreedaardige gedrag agv huislike omstandighede.