Ouma van vier gevonnis vir bedrog

slenter aanlyn bedrog

Argieffoto.

Die handelshof in Bellville het ʼn 61-jarige vrou 10 jaar tronkstraf opgelê op twee aanklagte van bedrog en geldwassery.

Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê Jacqueline Struwig, ʼn ouma van vier, is Donderdagoggend gevonnis nadat sy ʼn pleitooreenkoms met die staat bereik het.

Struwig was boekhouer van die Rynse Hoër Meisieskool (Rhenish) en die Hoërskool Stellenbosch van 1 September 2007 tot September 2014. By Rhenish het sy met personeellede se salarisse gewerk en by Stellenbosch was sy onder meer verantwoordelik vir kontantbetalings wat die skool ontvang het, asook salarisbetalings.

Ntabazalila sê by albei skole het sy geld na haar eie bankrekening en haar man en dogter sʼn herlei, asook na ʼn onbekende rekening. “Weens haar bedrog het Rhenish verlies van R1 083 699,59 gely en die Hoërskool Stellenbosch R63 289,99.”

Senior staatsadvokaat Ezmeralda Johnson het gesê die bedrog by Rhenish is agtergekom nadat die beskuldigde reeds uit hul diens getree het en ʼn nuwe boekhouer aangestel is. “Die nuwe persoon het vasgestel die beskuldigde het salarisse aan haarself betaal wat haar nie beskore was nie.”

Die skool het toe besluit om ouditeure aan te stel om die omvang van die bedrog te bepaal, het Johnson gesê, en bygevoeg die bedrog by Stellenbosch is op ʼn soortgelyke wyse vasgestel.

Struwig het nie haar samewerking tydens die ondersoek gegee nie, asook nie die volle omvang van die bedrog bekendgemaak toe sy deur die klaers gekonfronteer is nie. Johnson het gesê Struwig se werkgewers het haar vertrou, maar sy het dit misbruik. “Sy het die skool se geld weens gierigheid gesteel.”

Die hof het gehoor Struwig en haar man is vantevore aangekla weens bedrog van meer as R100 000, waaraan sy in Januarie 2011 skuldig bevind is. Destyds het sy ook ʼn werkgewer bedrieg.

Ter versagting van haar vonnis het Struwig beweer haar familie het ernstige geldelike probleme ervaar, maar erken sy het die verkeerde uitweg gekies om geld te kry om haar en haar familie se nood te verlig.

Ntabazalila sê sy het skuldig gepleit en berou getoon. Sy het glo selfmoordneigings getoon toe sy hoor die polisie soek haar.

Op die twee aanklagte van bedrog is sy tot 10 jaar effektiewe tronkstraf gevonnis en op die aanklag van geldwassery tot 12 maande, maar die hof het beveel dat sy dié vonnis gelyklopend met die ander een uitdien. Sy is ook ongeskik verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

Ntabazalila sê dié vonnis is nog ʼn bewys dat werknemers van die staat in poste waar hulle vertrou word om dienste te lewer, nie vervolging sal vryspring wanneer hulle betrap word dat hulle oortree nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sieg ·

Dis net sekere mense wat nie wat nie vervolging kan vryspring nie………
Die res kry n opsie om dit terug te betaal en onverskooning te vra..
Ondersteun steeds nie haar optrede nie.

giel ·

En wat van Zuma en die VBS spul en Tom Moyane? Etc, etc ………….

Dina ·

Net jammer vervolging geld net vir blankes. Wat van al die bedrog in die regering?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.