Ouma vas oor kleinkind se verkragting

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Pensioenaris van Mpumalanga is Vrydag in die Nelspruit streekshof gevonnis nadat sy haar kêrel gehelp het om haar sewejarige kleinkind te verkrag en haar met MIV te besmet.

“Die 67-jarige vrou van Daantjie naby Nelspruit is in 2008 saam met haar kêrel in hegtenis geneem in verband met die herhaaldelike verkragting van haar kleinkind,” het ʼn Sapa-korrespondent berig.

Die vrou se naam word weerhou om die kind se identiteit te beskerm.

Sy het onskuldig gepleit op aanklag van verkragting, sameswering om te verkrag en poging tot moord.

Die kêrel, wat MIV-positief was, het vroeër gesterf.

Landdros André Geldenhuys het die vrou tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het gesê alhoewel die kêrel moontlik die vrou ook met MIV besmet het, het sy voor die hof ontken dat sy MIV-positief is. Sy het gesê sy gebruik moetie om haarself te genees.

“Volgens jou het jy geweet hy was MIV-positief en jy het moetie gebruik,” het Geldenhuys aan die vrou gesê. “Maar jy is siek en jy loop met krukke – ʼn teken dat jy met gebreke sukkel. Dit is duidelik dat jy nog steeds die virus het.”

Hy het gesê die vrou word skuldig bevind dat sy die man gehelp het om haar kleinkind te verkrag deur wag te hou by die deur. “Jy is haar ouma, jy moes haar beskerm het. Sy is jou dogter se kind. Maar jy het aangegaan en haar blootgestel aan hierdie mishandeling en vernedering. Wat dinge vererger is dat dit nie net een keer gebeur het nie, maar ʼn hele paar keer op verskillende dae.”

Geldenhuys het gesê daar is geen bewyse of die kêrel die vrou beïnvloed het nie, aangesien sy nie enige getuienis wou lewer of betrokkenheid wou ontken nie. “Die feit bly staan dat jy skuldig bevind word dat jy ʼn rol gespeel het om hom te ondersteun. Wat dit vererger is dat jy nie enige berou toon nie.”

Hy het haar aansoek om verlof tot appèl afgekeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jess ·

Sies wat se Ouma of mens met n gewete laat dit toe , net n monster sal so iets doen ! Hulle moes haar langer tronk straf gegee het ! Ek meen haar kleindogter se lewe gaan verewig skade daar aan lei ! Sterkte aan die familie en die dogter’tjie mag die Here julle lui in die donker tyd *

Sorodi ·

Wat is ñ ouma? Dis iemand by wie ñ kind altyd veilig en vertroetel moet voel! Nie ñ monster wat haar kleinkind gebruik om haar kerel se perverse drange aan te help nie! 10 jaar tronk straf is gans te min vir die walglike daad waaraan sy deelgeneem het! Sy moet nooit weer n voet buite daai tronk sit nie. Ek hoop van harte dat die kleinding die regte berading en leiding sal ontvang en hierdie nagmerrie vir haar iets van die verlede word! Sterkte!

Kwassie ·

Ongelukkig het hierdie kind nou nie meer iets soos ‘n lewe voor haar nie, en sal die verskriklike nagmerrie nooit deel word van haar verlede nie – sy is met MIV besmet – dis ‘n doodsvonnis op die einde van die dag, en haar ouma kry net 10jaar, en die gebroedsel van ‘n man (as jy dit ‘n man kan noem) is klaar dood. Die trane loop oor my wange vir hierdie kind en haar ouers. Ai!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.