Ouma word in PTA-omgewing vermis

bettie-smit-vermis

Bettie Smit (80) word vermis. Foto’s verskaf.

Bettie Smit, ʼn bejaarde vrou van Burgersfort in Limpopo, word sedert Dinsdag vermis nadat sy vir die laaste keer by haar kleindogter se huis in die noorde van Pretoria gesien is.

Bettie (80) het sowat drie weke gelede vir haar kleindogter Lee-Ann Smit, in Pretoria gaan kuier, nadat dié geboorte geskenk het aan Bettie se 18e agterkleinkind.

“Lee-Ann het my ouma hier by ons in Burgersfort kom haal, en sy sou vandag [Woensdag] of Vrydag met ʼn bussie teruggekom het Burgersfort toe,” het Angelique Roos, ook een van Bettie se kleindogters, Woensdag aan Maroela Media gesê. Burgersfort is ongeveer 318 km van Pretoria af geleë.

Lee-Ann het haar ouma Dinsdagoggend vir die laaste keer by hul huis in Bokmakieriestraat in Theresapark gesien voor sy en haar man die huis verlaat het. Toe sy die middag terugkeer, was Bettie weg. Sy het Bettie se selfoonnommer gebel en die foon in die kombuis hoor lui.

Bettie is vermoedelik met haar handsak, kierie en ʼn plastieksak met ʼn japon, nagklere en toiletware uit die huis.bettie-smit-vermis2

“Dit is egter baie vreemd, want my ouma het so outydse bruin tassie met al haar sentimentele goed in soos foto’s van die familie, sertifikate en rapporte,” het Roos gesê. “Sy reis nooit daarsonder nie, maar tog het sy dit agtergelaat. Haar selfoon en groot tas met haar klere en legkaarte is ook nog by my niggie se huis. Sy ken Pretoria glad nie, so sy sou ook nie sommer op haar eie in die strate in vaar nie. Sy sukkel ook om te loop en is van ʼn kierie afhanklik.”

Buiten bloeddrukmedikasie benodig Bettie nie ander chroniese medikasie nie. Sy het ook nie Alzheimer se siekte of demensie nie en word beskryf as ʼn sterk en gesonde mens, wat nog jonk van gees is.

Bettie het ook ander familie in Pretoria, maar hulle weet ook nie waar sy haarself bevind nie en haar geliefdes soek sedert haar verdwyning onverpoosd na haar.

Die familie het die publiek versoek om Bettie se foto oral te versprei met die hoop om haar vinnig op te spoor.bettie-smit-vermis3

“Ek huil want ek weet nie of my ouma seergekry het nie. Ek weet nie of sy koud kry of iets het om te eet of te drink nie,” het Roos bewoë gesê.

Lee-Ann het ʼn vermistepersone-saak by die Akasia-polisiestasie aanhangig gemaak. Sy werk ook saam met die plaaslike gemeenskappolisiëringsforum om na Bettie in die omgewing te soek. Hulle kort egter veral manlike vrywilligers om te voet in velde te help soek na haar.

Lees die opvolgberig hier.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

drina ·

Hoop ouma word gou op gespoor is daar al enige nuus van ouma

Marietjie ·

Ek hoop die ou dame word vinnig en ongedeerd opgespoor.

Hannelie Horn ·

Ek bid dat ouma opgespoor word. Ek bid ook dat Jesus ‘n wakende oog oor haar veiligheid hou en dat sy ongedeerd weer herenig word met haar geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.