
Van links is Bertie De Bod, Boeta Hamman, William Eybers en HP van Schoor saam met hulle oumas. Foto: Verskaf
Ses oumas van Riversdal in die Wes-Kaap kon weer hul skooljare herleef toe hulle hul kleinseuns na hul matriekafskeid vergesel het.
Vier matriekseuns van die Hoër Landbouskool Oakdale het besluit om hul oumas saam te neem na hul matriekafskeid op 7 Augustus. Bertie de Bod het sommer albei sy oumas saamgeneem. “Ek kan mos nie net een kies nie – dit sal onregverdig wees!” het hy laggend gesê.
Bertie het aan Maroela Media gesê die idee het eintlik gekom toe een van sy vriende by die huis getob het oor wie hy na die matriekafskeid sal vra en grappenderwys vir sy ouma gesê het sy moet sommer saam met hom gaan. “Dit het ons die idee gegee om almal ons ouma saam te neem matriekafskeid toe.”
Die koppe het behoorlik gedraai toe die groep met ʼn geverfde bus en woonwa by die matriekafskeid opdaag. “Ons het in die bus saam met ons metgeselle gesit en ons oumas het in die woonwa gesit. Toe ons by die matriekafskeid stilhou het ons uitgeklim en ons oumas by die woonwadeur gekry en saam met hulle tot by die saal gestap.”
Volgens Bertie het slegs ʼn paar vriende vooraf van die plan geweet en was die meeste mense by die afskeid verbaas om die seuns saam met hul oumas te sien. “Almal het gejuig terwyl ons saal toe gestap het,” het hy gesê. “Van die oumas het gedink ons gaan net saam foto’s neem en hulle was baie verbaas toe ons by die matriekafskeid stilhou. Dit was vir hulle baie spesiaal.”
- Foto: Verskaf
- Foto: Verskaf
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
Ďit is nou oorspronklik! Geluk seuns met julle oulike idee en dat julle jul oumas spesiaal laat voel het. Sterkte met die eksamens wat nog voorlê.
Dit maak sommer ‘n mens se hart warm as ouer dames met soveel respek behandel word. Dit is so ‘n goeie voorbeeld vir ander, baie geluk jong manne. Mag julle lewe voorentoe met sukses besaai word.
Dit klink amper te goed om waar te wees. Dit is pragtig om te sien dat jongmense ook hulle grootouers eer. Vir sulke mense lê daar ‘n lang geseënde lewe voor. Dit is immers wat die 10 Gebooie beloof.
PUIK! Wel gedaan boys!!!!!! Daai Ouma’s sal dit verewig onthou….Briljant
Maroela, dankie vir bietjie positiewe nuus in ons land!