Oupa deel opstopper uit toe rowers toeslaan

Danie Schoeman ná die aanval. (Foto: Verskaf)

’n Egpaar in hul sewentigs is Dinsdag helder oordag in hul huis in Witpoortjie in die omgewing van Roodepoort in Gauteng beroof deur drie netjies geklede mans wat hulle as munisipale werkers voorgedoen het.

Die 76-jarige Danie Schoeman is gedurende die voorval vasgebind en gewurg, maar het sy man gestaan en minstens ’n hou ingekry toe die aanvallers hom oorrompel het.

Sy vrou, Anette (72), het kop gehou en die egpaar se seun gebel wat na die huis gejaag en binne minute daar was. Die aanvallers was egter reeds vort nadat hulle vermoedelik die noodoproep gehoor het.

Cobus Schoeman sê hy sidder om te dink wat met sy bejaarde ouers kon gebeur het as hy nié sy telefoon geantwoord het of in die omgewing gewoon het nie.

Cobus sê die drie aanvallers het gister kort voor 14:00 in ’n Volkswagen Polo voor sy ouers se huis stilgehou en aan die voordeur geklop.

Die verdagtes het hulself as munisipale werkers voorgestel en gevra om die huis se kragboks na te gaan. Danie het in daardie stadium geen onraad vermoed nie.

“My pa en een van die verdagtes is saam die huis in en hy is aangesê om die kragboks af te skakel. My pa het die kragboks net afgeskakel toe is die ander twee ook by…”

Cobus sê die drie verdagtes het sy pa gegryp en ʼn struweling het in die gang ontstaan.

Tekens van ‘n struweling in die Schoemans se huis in Witpoortjie. (Foto: Verskaf)

Danie se hande is gedurende die struweling vasgebind en hy is met ’n serp gewurg.

Anette was in die slaapkamer toe die aanvallers toeslaan. Sy het haar selfoon by haar gehad, het die slaapkamer se deur gesluit en in die badkamer geskuil van waar sy vir Cobus gebel het.

Cobus was binne minute by die huis en het sy beseerde pa met sy aankoms op die vloer in die gang aangetref.

Die verdagtes het toe reeds met verskeie besittings, waaronder ’n televisie en juwele, op die vlug geslaan.

“Gewoonlik antwoord ek nie my foon as ek in ’n vergadering is nie, maar ek het my ma sien bel en net ’n gevoel gekry ek moet antwoord,” vertel Cobus.

“Ek is woedend. My ouers is oumense en ’n kwesbare teiken.”

Volgens Cobus is niemand nog in hegtenis geneem in verband met die aanval nie.

Die private veiligheidsmaatskappy in die omgewing soek glo boonop al geruime tyd na die voertuig waarmee die aanvallers gery het.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gestuur oor die aanval en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Die gemors is regte lafaards! kan net oumense aanval en dan boonop 3 van hulle. Hoop hulle word gevang. Ons sal moet leer om vir GEEN EEN van “our people” die deur oop te maak nie. Bel eers en vind uit of hulle wel daar werk en maak seker hulle het identifisering aan hulle.

ES

Dankie tog hulle het lig daarvan afgekom. Ek vertrou geen mense in my erf nie. Nie eers die vriendelike munisipale meterleser wat al vir jare kom lesings neem nie. Mens kan dit ongelukkig net nie bekostig om onverwags so gevang te word nie. Ons word dopgehou en hulle maak staat op ‘n mens se vertroue en die element van verrassing tel in hulle guns.

JM

Vervloekte gemors! En die ewige geykte sin: “Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.” Mag hulle vrot in die tronk! Die wiel van geregtigheid draai gewis.

Elinette

Cobus, hopelik het jou ouers nou hieruit geleer: JY MAAK NIE DIE HEK OF DEUR VIR ENIGE IEMAND OOP NIE (NIE EENS DIE POLISIE NIE)!!!! Hulle het jou ouers se huis waarskynlik al LAAAANK TERUG geïdentifiseer en dopgehou om die “comings and goings” te weet. Ek sal iemand wat ek nie ken nie, in my erf toelaat, AS EK DAAR IS … maar my getroue, kwaai wolfhond is aan my sy en my pepersproei in my hand.

JohanR

Te dom en te lei om te werk, soe terwyl jy elke dag swoeg en sweet sit hulle en dink planne uit om jou huis of kar in te kom. In die geval munisipale werkers.