Oupa het voorgevoel gehad voor Bainskloofpas-tragedie

Cayleb Smit (7), Gradwill Smit (4) en Joshua Smith (18 maande oud) is al drie tydens die ongeluk oorlede. (Foto: Verskaf)

“Ek kan dit nou nog nie glo nie. Ons het die middag nog so lekker saam met die kinders geswem en worsbroodjies gemaak. Ons was so gelukkig gewees.”

Só vertel Carl Smit van Wellington nadat al drie sy kleinkinders Saterdagaand saam met hul oumagrootjie in ’n ernstige ongeluk op die Bainskloofpas betrokke was. Die familielede se motor het die pad verlaat en meer as 80 m na benede getuimel.

Cayleb Smit (7), Gradwill Smit (4) en Joshua Smith (18 maande oud) is al drie tydens die voorval oorlede. Sarie de Villiers (60) het ernstige beserings opgedoen en is na ’n hospitaal gehaas vir mediese behandeling.

Smit vertel hy het Saterdagmiddag ’n “voorgevoel” gehad toe sy ma daar weg is om die seuntjies by hul ouerhuis te gaan aflaai.

Smit se twee dogtertjies wou saamry. “Ek het net ’n snaakse gevoel gehad en vir hulle gesê om eerder by pappa te bly.”

Hy wou ook nie hê sy ma moes dadelik ry nie.

“Ek het vir haar gesê om eers die rugby saam met ons te kyk. Sy wou die kinders net gou gaan aflaai. Dit is so ’n halfuur se ry. Sy sou nog slaaigoed terugbring vir die braai.”

Smit se “grootste vrees” is egter kort daarna bewaarheid toe ’n polisievoertuig Saterdag vroegaand voor die huis stop met die nuus dat De Villiers en die seuntjies in ’n ongeluk betrokke was.

“Ek het sommer dadelik geweet … Ek het inmekaargesak. Ek kon dit nie hanteer nie.”

Daar is aanvanklik vermoed dat nie een van die familielede die ongeluk oorleef het nie.

Die nood-en-reddingsdienste het ure lank gespook om De Villiers met behulp van toue tot by die padoppervlak te hys voordat sy na ’n hospitaal gehaas kon word.

De Villiers is dié aand met nekbeserings en gebreekte ribbes in die waakeenheid van die Tygerberg-hospitaal opgeneem. Sy is egter intussen na ’n gewone saal in ’n hospitaal in die Paarl oorgeplaas.

“Sy praat, maar kan niks onthou van wat gebeur het nie,” sê Smit.

Daar sal die naweek van Cayleb, Gradwill en klein Joshua afskeid geneem word. ’n Gedenkdiens vind Vrydag omstreeks 08:30 by Wellington Primêre Skool plaas waarna die familie ’n kranslegging op die ongelukstoneel sal bywoon.

’n Gedenkdiens vind Saterdagoggend by De Villiers se huis in Wellington plaas waar die kinders baie tyd deurgebring het.

“Hulle drie was my ma se lewe. Hulle het by dié huis gespeel. Hulle was gelukkig daar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chantel ·

Ek kan net vra hoekom, al 3 op een slag. Mens wonder soms wat die rede agter sulke tragedies is.

Zacahara ·

Aai, wat ‘n tragedie!!! Sterkte vir die familie & vriende wat agterbly!!

Onnie ·

Ek dink di tannie weet self nie hoekom sy daar gery het nie. Sy kon dalk n beroerte gehad het..

Linx ·

Nerens word gese hlle was oppad paarl toe nie of mis ek iets

madels ·

Kan my nie indink wat hierdie familie deurgaan nie. Hoe verskriklik tragies :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.