Oupa samel duisende rande in met ‘Tour de Lockdown’

Na 3470km is Janse van Rensburg klaar met sy fietswedren (Foto: Verskaf)

Danie Janse van Rensburg (63) van Vanderbijlpark in Gauteng het Donderdag sy ‘Tour de Lockdown’-fietswedren ná 21 dae op sy oefenfiets voltooi. Die “fietsren” was ten bate van mense wat aan seldsame siektes ly.

Dié kranige fietsryer het altesaam R13 463 ingesamel vir Rare Diseases South Africa, ʼn niewinsgewende organisasie wat mense met seldsame siektes help en ondersteun.

Hy het ook sy beoogde teiken – om die Tour de France se afstand van 3 470 km te voltooi – behaal.

Donasies het binne die bestek van ’n week ingestroom en het aan die begin van verlede week nog op R5 000 gestaan. Skenkings het selfs van Amerika en Australië ingekom.

“Ek is dankbaar om klaar te wees en dankbaar vir al die donasies. Elke kilometer was die moeite werd,” sê Janse van Rensburg. Twaalf ander fietsryers, onder meer Janse van Rensburg se skoonseun, het Donderdag die laaste paar kilometers saam met hom afgelê.

Janse van Rensburg en sy kleindogter Lumé Vlok wat aan ‘n seldsame siekte ly (Foto: Verskaf)

’n Verdere R8 000 is ook in dié tyd ingesamel vir Janse van Rensburg se kleindogter, Lumé Vlok (5), wat met ’n seldsame siekte gebore is. Maroela Media het vroeër berig Lumé se 18de chromosoom is gedeeltelik gedupliseer. Dié chromosoomafwyking is so skaars dat daar nog nie ʼn naam daarvoor is nie omdat geen navorsing al daaroor gedoen is nie.

Om dié rede lê Rare Diseases South Africa vir Janse van Rensburg na aan die hart. Hy het besluit om hierdie tog ten tyde van afsondering aan te pak ter bewusmaking van hierdie organisasie en die goeie werk wat hulle vir mense met seldsame siektes doen.

Janse van Rensburg het sy “Tour de Lockdown”, soos hy dit noem, op sy oefenfiets in sy huis op die eerste dag van afsondering (26 Maart) afgeskop. Hy het probeer om daagliks verskillende afstande van tussen 160 km en 250 km af te lê.

Janse van Rensburg se skoonseun het die laaste 113 km saam met hom getrap (Foto: Verskaf)

Hy het soggens 03:00 begin en om en by so 12:00 die middag klaargemaak. “Ek het elke uur ʼn vinnige blaaskans geneem om te strek. Die res van die dag verrig ek huistakies in en om die huis, soos dit enige goeie man van die huis betaam,” het hy vertel.

Janse van Rensburg sê die laaste 10 km was vir hom die moeilikste.

“Party dae was moeiliker as ander. Op moeilike dae het ek myself herinner waarom ek dit doen; vir Lumé en almal met seldsame siektes wat elke dag van hul lewe moet ly. En dan het ek net deurgedruk.”

Janse van Rensburg ry sedert 2016 jaarliks die 94.7-fietsmaraton ten bate van Rare Diseases SA. Hy beoog om vanjaar 100 mense te werf wat dié maraton saam met hom sal aanpak ter bewusmaking van die onbaatsugtige werk wat die organisasie doen.

Mense kan steeds geld hier skenk. Volg ook Janse van Rensburg se Tour de Lockdown-tog op sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.