Oupa sterf in huisbrand

Só lyk die huis in Umgeni Park ná die brand. (Foto: Netcare 911)

’n Bejaarde man is dood nadat ’n brand Saterdag vroegoggend by ’n huis in die noorde van Durban uitgebreek het.

Die 74-jarige man se 29-jarige kleindogter kon uit die brandende huis gered word.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê die nooddienste is omstreeks 06:00 na die brandende huis in Umgeni Park ontbied. Swart rook het by paramedici se aankoms uit die dak en vensters van die huis in Roseberryweg getrek.

Die nooddienste vanoggend op die toneel. (Foto: Netcare 911)

Beamptes van Marshall Security het die voordeur van die brandende huis afgebreek voordat hulle deur die huis gekruip het op soek na die slagoffers. Die kleindogter is eindelik na buite gehelp. Sy het rookinaseming opgedoen.

Die Ethekwini-brandweer en reddingsdienste het die vlamme geblus waarna die liggaam van die bejaarde man in die huis gevind is.

Volgens Marshall Security was die man in ’n kamer agter in die huis vasgekeer ten tyde van die brand en reddingswerkers kon hom nie bereik nie.

Die omstandighede rondom die brand is in dié stadium onduidelik. Die polisie was vanoggend op die toneel om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.