Oupa sterf week ná kleindogter (8) hom skiet

Foto: Verskaf.

Die 46-jarige man wat op 3 April tydens ʼn fratsongeluk deur sy agtjarige kleindogter in die kop geskiet is, is Dinsdag in die hospitaal dood.

Brig. Mashola Manamela, Randfontein se stasiebevelvoerder, het die nuus aan Maroela Media bevestig.

“Ons het Dinsdag die nuus ontvang dat hy in die Chris Hani Baragwanath-hospitaal dood is. Die nadoodse ondersoek sal aandui of hy beswyk het aan sy beserings of nie en wat presies die oorsaak van sy dood was,” het Manamela gesê.

Die saak van poging tot moord wat aanvanklik ondersoek is, sal nou omgeskakel word na moord.

Maroela Media het vroeër berig die voorval het in Helikonpark in Randfontein plaasgevind.

Manamela het gesê die slagoffer het in sy bed geslaap met sy vuurwapen onder sy kopkussing. “ʼn Agtjarige kind het hom toe na bewering in die kop geskiet,” het Manamela gesê.

Manamela kon nie bevestig hoe die kind die vuurwapen in die hande gekry het of presies hoe die skietvoorval gebeur het nie, en het gesê dit sal deel vorm van die polisie se ondersoek.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is om 07:10 na die toneel ontbied. “Toe paramedici by die toneel opdaag, is hulle na die slaapkamer van die huis gelei. Die man is in sy bed aangetref met ʼn skietwond aan sy kop,” het Meiring gesê.

Die man is volgens Meiring op die toneel gestabiliseer en daarna per mediese helikopter na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal gehaas vir verdere mediese behandeling.

Manamela wou nie in dié stadium die slagoffer se identiteit bevestig nie.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Heidi ·

Sy is 8 jaar oud. Die arme kind gaan die res van haar lewe met die letsel loop. Ons wil nie weet wie dit was nie en drop die moord saak teen haar. Just for once be reasonable.

JJ ·

Enige keer wat iemand sterf soos dit, móét die staat n moordsaak open, dit sê nie sy word vervolg nie, maar hulle moet een open om te ondersoek ens.

Tragies ·

RIV
Innige simpatie aan die familie. Wat ‘n hartseer aangeleentheid.

JohanC ·

Wat n tragiese voorval. Daar sal seker weer vrae gevra word of die oupa nalatig was met die besit van die wapen wat volgens die berig onder die kopkussing was.

Wat ek egter nie verstaan nie is hoe Brigadier Manamela n uitspraak kan maak dat daar nou n moordsaak teen die agtjarige kind ondersoek kan word. Die ouderdomsgrense word baie duidelik uiteengesit in die Wet op Kinderberegtiging wet 75 van 2008. Dit bepaal baie duidelik soos volg :Kinders wat nog nie hulle negende lewensjaar voltooi het nie( dws wat nog nie hulle tiende verjaarsdag bereik het nie , word onweerlegbaar vermoed ontoerekeningsvatbaar te wees nie. Sodanige jeugdiges kan nie aan enige misdaad skuldig bevind word nie.

n Geregtelike nadoodse ondersoek ( n lykskouing ) is bestaande prosedure met n onnatuurlike sterfgeval maar n moordsaak open teen n agtjarige kind maak nie sin nie.
Daar kan nie sprake wees van n moordklagte nie waarom dan n moordsaak open. Om te se dis bestaande prosedure maak nie sin nie want dis n agtjarige kind wat betrokke is

Ek sal graag hierdie Brigadier se verduideliking wil sien hieromtrent.

Bia sterkte aan al die familielede wat hier betrokke is . Mag die Hemelse Vader julle in sy HANDE toevou met sy liefde in hierdie tyd van rou.

Henry59 ·

Daar moet seker ondersoek ingestel word of die kind werklik die een was wat hom geskiet het?

corne ·

Ag nee regtig moord????Seker volgens wet ja maar kom ons wees eerlik dit was n nalatige vratsongelik nalatig deur wapen da te los wees vrees van n aanval

PP ·

Mense mense mense, as iemand sterf in só n voorval, moet daar n moord docket oopgemaak word, dit sê nie die 8jarige gaan vir moord vervolg word nie- die docket moet oopgemaak word, ongeag ouderdom.

Liza ·

Al wat ek kan se is sterkte aan die familie. Omhul die kind met liefde dit was ‘n fratsongeluk dit het al so baie gebeur dat iemand per ongeluk geskiet word ons hoor net nie daarvan altyd nie. ‘n Maat van my was 5 jaar oud toe haar ma haar per ongeluk in die been geskiet het.

An-Mari ·

Ek ken die familie persoonlik. Dit is vir almal vreeslik erg. Bid vir hulle asb. x

Willie ·

Johan, dit lyk nie vir my of die kind aangekla word nie. Dit is korrek dat ‘n saak van moord ondersoek word want iemand het ‘n ander persoon se onnatuurlike dood veroorsaak. As dit blyk dat die kind daarvoor verantwoordelik is, sal jou redenasies seker in werking tree.

VanAfrika ·

Hierdie kind gaan nou vir die res van haar lewe loop met die gedagte dat sy haar oupa “vermoor” het.

Lientjie ·

Dit is ‘n normale prosedure wat deur die Polisie gedoen moet word. Die saak moet geopen word en die ondersoek moet gedoen word.

Elle ·

Verbaas my nie dat die arme man met ‘n vuurwapen onder sy kopkussing
moes slaap nie (in ‘n poging om veiliger te voel ). Neem hom ook nie kwalik daarvoor nie.
Suid Afrikaners lewe in vrees vir hul en hul kinders se veiligheid. Ons word versaak deur ‘n regering wat sy SA- burgers aan hul eie genade oorlaat. En nou dié tragedie. Hoop die kind kan eendag berusting vind.
Alle simpatie met die familie.

Kannaland ·

Ja, sekere areas in die land is dodelik gevaarlik daarom sal rasionele mense met n geweer gereed by hulle slaap.

Alida ·

Natuurlik sal die slim mense die arme kind ondervra en agter die waarheid kom. Hulle het hulle maniere. Wag totdat al die verslae gereed is en oordeel dan. Ons was nie daar nie en weet nie wat het presies gebeur of aanleiding gegee tot die skietvoorval nie. Hou op bespiegel oor goed waarvan julle niks weet nie ASB.

kas ·

VanAfrika,dit is so maar tyd is die beste geneesmiddel.Sy is maar agt jaar oud en ek glo met die regte berading kan sy eendag leer om te aanvaar dat dit ‘n ongeluk was en sy nie haar oupa vermoor het nie.Sterkte aan die familie

Wie weet? ·

Dankie Alida vir jou wysheid en raad.
Ons sal -soos jy sê- geduldig wag …tot die “slim” mense agter die waarheid kom. Net jammer dat dit hul gewoonlik so lank neem om die mees eenvoudigste saak te ontrafel.

Kannaland ·

Probleem is dat alle media berig graag oor n gebeurtenis, maar volg nie op nie, dit is presies waarom baie mense bespiegel, want daar is net een geleentheid en nie weer later geleentheid nie want daar word nie oor uitslag berig nie. Dit is veral waar in die geval van berigte oor ongelukke. So, almal wat bespiegel, dit is julle reg en dalk laaste kans om iets daaroor te se.

Mams ·

Toe ek 11 jaar oud was, het ek my oupa se pistool onder sy kopkussing gevind en ‘n skoot in die matras afgevuur. Nie eens per ongeluk nie. Wou voel hoe dit voel. Ek het my gat afgeskrik en tot vandag nog nooit weer aan enige vuurwapen geraak nie. As daardie dag so in my brein ingebrand is (en niemand anders weet eens daarvan nie en niemand het seergekry nie), hoeveel te meer nie hierdie arme arme kind nie. Ag asseblief laat sy tog net okay wees en die nodige terapie kry.

Cherokee ·

En toe ek 13 jaar oud en in std 6 was het ek myself met ‘n gaspistool in die oog geskiet. Gelukkig was daar slegs blanks (loskruit?) patrone in die magasyn. Die kruit is deur ‘n dokter uit my oog gehaal maar ek het vir lank met ‘n oogklap geloop en dit was weke voordat ek die oogklap kon afhaal en weer normaal sien.

Oom Kalahari ·

Alle simpatie met jul skielik groot verlies en wens die familie, vriende en kollegas alle sterkte toe deur hierdie tyd van rou. Hierdie dogtertjie gaan hulp nodig he om hierdie traumatiese gebeurtenis te verwerk en omvou haar en laat haar weet dit was ‘n fratsongeluk en dat haar Oupa en al die familie nogsteeds baie lief is vir haar. Mag hierdie kindjie berusting vind in haar hartjie.

Mags ·

Hierdie berig en die kommentaar hierop, is weereens n bewus van onkunde oor vuurwapens. Kinders moet van kleintyd af bewus gemaak word van die gevaar van vuurwapens. Vuurwapens moet nie n taboe onderwerp tuis wees nie. Maar bo en behalwe alles, moet kinders wapenveiligheid geleer word. Vat hulle na n skietbaan toe, leer hulle. Dan sal hulle nie nuuskierig wees, en met die goed wil speel nie. Hulle sal weet wat dit behels en respek daarvoor hê. Al ons kinders het van kleintyd af onder toesig geskiet, en Nog nooit andersins aan n wapen gepeuter nie. Nie eens om te spog by maatjies nie, want hulle weet wat dit behels, hulle besef die gevaar daarvan. Leer julle kinders….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.