Outa: ‘Gee plunderende politici en amptenare die trekpas’

Die vakbond Uasa het sy steun toegesê aan ʼn ondersoek met die oog op vervolging van verskeie van die sukkelende wapenvervaardiger Denel se voormalige uitvoerende hoofde.

Die Zondo-kommissie na staatskaping het in die tweede gedeelte van sy verslag, wat spesifiek handel oor Denel en Transnet, aanbeveel dat sodanige ondersoeke van stapel gestuur word.

Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa, sê die land se staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) benodig ernstige ingryping.

“Dit het sinloos geword om hierdie ondernemings met belastingbetalersgeld aan die gang te hou, terwyl hulle daarin misluk om weens korrupsie en wanbestuur hul bedrywighede vol te hou en werkers te dra,” sê Moyo.

Sy sê dit is ook duidelik dat die staat nie ʼn duit omgee oor dié SBO’s of hul werkers nie. “SBO’s moet hul eie inkomste begin genereer en volhoubaar wees, of dit moet geprivatiseer word.”

Die drukgroep Outa sê dit is tyd om plunderende politici en amptenare die trekpas te gee.

“Daar is geen omdraaikans nie. Mense moet aanspreeklik gehou word – van die destydse president tot die ministers en die rade van SBO’s – almal wat aandadig was,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

“Die prentjie is so duidelik en tog wonder ons waarom dit [aanstaltes met vervolging] so lank duur. Ons moet aanspreeklikheid kan sien.”

Outa sê heelwat van die wandade wat tydens oudpres. Jacob Zuma se termyn gepleeg is, is gedoen met die volle wete en dikwels ook die deelname van sy ministers, adjunkte en premiers. Hulle oortredings was boonop bekend aan parlementslede, lede van die provinsiale wetgewer en raadslede wat deur die regerende party aangestel is.

Tog het weinig intussen verander wanneer dit kom by korrupsie deur diegene wat deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel word, sê Outa. Ramaphosa is boonop president van die ANC, die party wat die meeste by wandade betrek word.

Outa sê daar moet tugstappe met die oog op afdanking van stapel gestuur word teen soveel as moontlik van die oortreders. Hulle name moet ook op ʼn lys geplaas word van diegene wat nie weer ʼn pos in die staatsdiens mag beklee nie.

“Ons is ook voorstanders daarvan dat wetstoepassingsowerhede oorweeg om beslag te lê op die paspoorte van diegene wat die nouste geïmpliseer word. Hulle moenie toegelaat word om te ontsnap soos die Guptas gedoen het nie.”

Duvenage sê mense weet al jare lank van dié skobbejakke wat by staatskaping betrek word. “Hulle is leuenaars en diewe, nie geskik vir ʼn openbare amp nie.”

Van die name wat in die Zondo-verslag genoem word, sluit in dié van Brian Molefe, Anoj Singh, Siyabonga Gama, Malusi Gigaba, Gwede Mantashe, Lynne Brown, Des van Rooyen, Dan Mantsha, die Guptas – en Jacob Zuma.

Outa sê dit is noodsaaklik dat diegene betrokke uit magsposisies verwyder word en verhoed word om toegang tot die staatskas te kry om hulself teen toekomstige vervolging te verdedig.

Die organisasie het ook Zondo se aanbeveling, dat die misbruik van staatsmag as ʼn misdaad geklassifiseer moet word, verwelkom.

“Ons beskou die misdade as verraad.”

Outa het ook die aanbeveling verwelkom dat ʼn liggaam op die been gebring moet word om aanbevelings oor die aanstel van raadslede van SBO’s, asook hul uitvoerende hoofde, te doen.

Duvenage sê SBO’s moet stappe doen teen diegene wat dié ondernemings geplunder het, oorsigliggame moet hul werk begin doen en vergoeding moet geëis word van internasionale maatskappye wat staatsgeld geplunder en gewas het.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet ook vervolgings teen diegene betrokke in werking stel en geld moet in die begroting daarvoor beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Shakespeare ·

Trekpas… Ja. Tronkstraf plus konfiskeer al hul bates JA !!
JA !!……….maar ongelukkig woon ons in Afrika waar elke derde persoon ‘n krimineel is.

Peach ·

@Shakespeare, indien ek jou met Helen Zille en Pieter Mulder groepeer, gebaseer op jou stelling, na wie in die groep van drie dink jy sal die vinger as krimineel wys?

Casper ·

Nou vra ek my die vraag,hoekom treë Ramaphosa nie op teen die korrupte in sy kabinet nie.Treê hy net op teen diegene wat nie deur hom aangestel is nie?Die SBO’Swat eens vooruitstrewend was kan nie eers werkers se salarisse bekostig nie.DENEL was wêreldwyd bekend vir die vervaardiging van wapentuig en hulle ammunisie PMP was bekostigbaar en betroubaar.Somchem kruit was goedkoop en nou betaal ons ons g…e af vir ingevoerde produkte.Privatiseer DENEL en kyk die verbetering wat sal plaasvind.

Lourens CFG ·

“Outa het ook die aanbeveling verwelkom dat ʼn liggaam op die been gebring moet word om aanbevelings oor die aanstel van raadslede van SBO’s, asook hul uitvoerende hoofde, te doen.”
Die liggaam moet GEEN boeties, tjommies, vriende óf famielies van ENIGE anc, eff ens. lid insluit nie.
Die wat klaar op “pensioen” is se pensioen geld en bates en alle voordele moet ook dadelik terug geneem word.
En nee, dit is nie straf voor hulle skuldig bevind is nie, hulle almal het daardie uitgevang maar jy moet dit bewys uitdrukkings op die gesig.

gatgogga ·

A nee a! Wil julle dan nou transformasie opvoeter? Nou, wanneer die RET-familie dan vra vir nog meer radikale transformasie.

Frank ·

Nie verraad nie, dis HOOGVERRAAD teen AL die mense van hierdie land.

annie ·

Die NVG? Dit is ‘n deadly Dodo. Die vraag moet gevra word of daar steeds mense is wat die toutjies trek want in die verlede was dit die geval. Is die aanstellings gebotterde toast deur ander staatskapers en nog belangriker: Is die Guptas se hand nie steeds nog in ons geldlaaie en regering se topbestuur nie?

Lillian ·

Trekpas, en sonder al die voordele wat hulle so gerieflik kry selfs nadat hulle afgedank is.

Di ·

So dit beteken dat 90% van die ANC kaders in die Parlement die trekpas moet kry. Hierdie vervolgings gaan nooit gebeur nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.