Die drukgroep Outa het hom tot die hof gewend in ʼn poging om lisensies wat aan die maatskappy Karpowership toegeken is, te laat omkeer.
Die organisasie sleep die nasionale energiereguleerder (Nersa), vier Karpowership-maatskappye, die minister van minerale hulpbronne en energie, sy eweknie by bosbou, visserye en omgewingsake, asook Eskom hof toe oor die toekenning van die lisensies.
Outa se saak is wesenlik gemik op Nersa, met die ander partye wat weens hul belang by die saak genoem word. Die drukgroep vra die hof om die besluit om die lisensies toe te ken ter syde te stel en Nersa voorts te beveel om die besluit te heroorweeg.
Die organisasie voer aan Nersa het versuim om in die belang van Suid-Afrika op te tree en sê 20 jaar lange sogenaamde noodkontrakte wat aan Karpowership toegeken is, gaan nie ʼn einde aan beurtkrag maak nie, maar die land eerder met ʼn peperduur langtermynkontrak belas.
Adv. Stefanie Fick, ʼn direkteur van Outa, sê Nersa het ʼn “onverskillige houding” teenoor wetlike voldoening en openbare kommer getoon in sy besluit om opwekkingslisensies aan Karpowership toe te ken.
Fick sê dit is Nersa se plig om te verseker die belange van elektrisiteitsverskaffers word opgeweeg teenoor die belange van sy klante, lede van die publiek en die ekonomie.
“Die besluite om die lisensies aan Karpowership toe te ken vir opwekking by Coega, Saldanhabaai en Richardsbaai onderskeidelik, was irrasioneel, onbillik en sonder enige ontsag vir tersaaklike oorwegings of met oorweging aan omstandighede wat irrelevant was,” sê sy.
Min. Gwede Mantashe het in Februarie 2020 bepaal dat 2 000 MW noodopwekkingskapasiteit deur die risiko-verligtingsprogram vir kragverkryging by onafhanklike kragprodusente (RMIPPP) gekoop kan word. Nersa het in Mei 2020 daartoe ingestem.
Die departement van minerale hulpbronne en energie het daarna gevra vir voorstelle en in Maart 2021 is sewe voorkeurbieërs aangekondig. Dit het die drie Suid-Afrikaanse maatskappye van Karpowership ingesluit. In September 2021 het Nersa drie opwekkingslisensies aan Karpowership toegeken.
Die koste verbonde aan die projekte sal oor die 20-jaar-tydperk glo sowat R200 miljard beloop en die skepe sal oor dieselfde tydperk aan die kus lê.
Outa sê dit lyk egter of Nersa die belange van die Karpowership-maatskappye bo dié van lede van die publiek stel. “Dit is uiters kommerwekkend dat Nersa, ʼn openbare Suid-Afrikaanse liggaam wat staatsfinansiering kry, kommer uitspreek oor die geldsake van ʼn private maatskappy waarvan die meerderheidsaandeel in Turkse besit is, en die indruk wek dat die finansiële welstand van Karpowership voorkeur moet geniet bo dié van Suid-Afrikaners,” sê Fick.
Eskom het boonop nog geen koopkontrak met Karpowership aangegaan nie en daar is geen sekerheid dat hy dit wel gaan doen nie. Die departement het reeds verskeie kere die spertyd vir RMIPPP-voorkeurbieërs verleng om die nodige regulatoriese goedkeuring te verkry, maar Karpowership het dit steeds nie gedoen nie.
“Daar is goedkoper en selfs beduidend goedkoper opwekkingsopsies beskikbaar wat beurtkrag op kort termyn kan verhoed. Die Karpowership-projekte is nie nodig nie,” voer Outa aan.
Die organisasie sê Nersa het versuim om die uitwerking van Karpowership se opwekkingsprogram (dit maak van fossielbrandstowwe gebruik) in ag te neem, terwyl skoner, goedkoper en vinniger opsies beskikbaar is. Strydig met wat Nersa aanvoer in sy redes vir die toekenning van die lisensies, skep hernubare energieoplossings veel meer werksgeleenthede op ʼn per kW-grondslag, as wat die Karpowership-projekte sal doen.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
Gee hulle gas Outa! Ons is moeg vir peperduur konneksies wat die arme verbruiker op straat niks bevoordeel nie.
Die bankrot ANC is desperaat vir cash….en BAIE daarvan! Hierdie is kans vir die kaders om hulle werk te doen en geld te skep.
Outa onthul asseblief net die name van die persone wat die lisensies so welig en vinnig uitreik.
Een skip nogal by Saldanhabaai. Dis mos in die Wes-Kaap, daar waar “die rassistiese DA” in beheer is. Gaan die ANC-regering sowaar die Wes-Kaap help?
Wat is NERSA se doel nou eintlik?