Outa terug in hof teen ‘misdadige direkteur’ Myeni

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die SAL-raad. (Foto: ANA)

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê hy is Maandag terug in die hof vir nog ʼn ronde in sy saak teen Dudu Myeni, ʼn voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Die hooggeregshof in Pretoria het Myeni vroeër tot lewenslange misdadige direkteur verklaar.

Myeni het haar daarna tot die hof gewend in ʼn poging om te verhoed dat die bevel afgedwing word. Sy voer aan sy dien nie meer in enige raad van ʼn staatsbeheerde onderneming (SBO) nie.

Regter Ronel Tolmay het in Mei verlede jaar bevind Myeni was oneerlik, roekeloos en grof nalatig in haar optrede as voorsitter van die SAL, ʼn instelling wat so geweldig wanbestuur is dat sy skuld een van die grootste bedreigings vir Suid-Afrika se kwesbare ekonomie inhou.

Myeni, glo ʼn noue bondgenoot van oudpres. Jacob Zuma, was tussen 2012 en 2017 voorsitter van die SAL.

Outa en die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa) het die aansoek teen Myeni aanhangig gemaak.

Myeni se aansoek om verlof tot appèl teen die bevinding dat sy ʼn misdadige direkteur is, is van die hand gewys en Tolmay het beveel dat die bevel dadelik in werking tree en afdwingbaar is ongeag enige verdere appèlle.

Myeni eis nou dat die tussentydse bevel teen haar geskrap word, hangende die uitkoms van enige appèlaansoek teen die hoofbevel.

Outa sê Myeni voer aan sy is nie meer ʼn direkteur van enige SBO nie. Haar termyn as lid van Centlec se raad het in November verlede jaar verstryk en daar is dus geen openbare belang meer vir die afdwing van ʼn bevel teen haar nie.

Sy voer ook aan dat sy haar inkomstebron gaan kwyt wees as sy verwyder word van die rade van ander maatskappye, terwyl haar hoofappèlaansoek aan die gang is.

Outa en Saapa staan die aansoek teen.

“Dit is die eerste keer dat enige werklike aanspreeklikheid me. Myeni vir haar optrede by die SAL in die gesig staar. Sy het alles in haar vermoë gedoen om in die pad daarvan te staan en het deur die verhoor die maksimum vertraging en ontwrigting probeer veroorsaak,” het adv. Carol Steinberg in betooghoofde namens Outa en Saapa aangevoer.

Myeni se regspan moes hul betooghoofde teen Dinsdag indien, maar dit is volgens Outa teen Vrydag steeds nie gedoen nie.

Myeni appelleer ook in die appèlhof teen die bevel waarin sy tot misdadige direkteur verklaar word. Die spertyd vir die indien van dokumente hiervoor is misgeloop en haar prokureurs moes aansoek doen om kondonering. Myeni se regspan voer onder meer aan hulle het gesukkel om dokumente aan die SAL en AirChefs te beteken omdat bedrywighede daar opgeskort en werkers afgelê of nie by die werk is nie.

Thomas Sibuyi, Myeni se regsverteenwoordiger, voer aan die lewenslange verbod wat die hof opgelê het, is ongekend in Suid-Afrika en ongevraagd in enige omstandighede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jackie ·

Sy hoort eintlik agter tralies. Lewenslank, nie 25 jaar nie.

Nie Verbaas ·

Stem 100% saam. Sy is ongetwyfeld totaal en al onbevoeg om in enige bestuurs posisie te wees.

Persheks Adri ·

Nee wat maak ‘n voorbeeld van haar en klaar! Nou wil sy huil oor haar inkomste gggmmmfff pffft dis om van naar te word met die arrogante houding

Hoekom ·

Dit het haar 5 jaar gevat om SAL tot op sy knie te dwing. Ons regering kan nie eers na 25 jaar die land op die regte pad lei nie. Onbevoegd is ‘n te mooi woord.

Drico ·

Die wanbestuur, korrupsie en growwe nalatigheid is ook ongevraagd. SAL en die belastingbetalers moet dit maar lewenslank ontgeld, maar sy voel dis ongevraagd om n lewenslange verbod uit te dien?! Sy verdien om haar inkomste te verloor en soos die res van ons van die hand na die mond te leef…letterlik.

MakersMark ·

Die finansieële geplundery onder haar voorsitterskap was ook ongekend in Afrika …….

J ·

Wie het vir Dudu aangestel?

Ou Wreckingball

Hy dra 90% van die verantwoordelikheid vir SAL ramp.

Mariana ·

Maar soos die res gaan sy niks oorkom nie en steeds vry rond loop.

Ian ·

Hul taktiek was om SAL te kelder. Al die SOEs moes gekelder word en dit was amper. Nou dan hulle hoeveel etlike miljoene rande verduister het nou wil sy kom huil oor n bron van inkomste. Geldgierigheid is soos drugs jy kan later nie meer genoeg kry nie. Sy hoort in die tronk met ander misdadigers en Zuma saam met haar

Genis ·

Dom soos grond en dom astrand ook nog…. lekker geplunder nou moet die val vat, vir die extravagant leefstyl… In die tjoekie met julle kaders…gooi die slotte weg….

pompies ·

Nee Genis gooi die sleutels weg as jy die slotte weg gooi loop hulle vrylik rond.

fs ·

Ongekend en ongevraagd… die prokureur moet ook sommer ondersoek word – as hy die misdadige aksies van die vrou goedkeur is daar nie veel te sê van sy eie integriteit – SY MOET TRONK TOE.. 1 KOMBERSIE, ‘N BAKKIE PAP EN SLAP SOUS EN SY HET NIE HAAR INKOMSTE NODIG… Vat ALLES wat sy het om die geld terug te kry wat sy so wild en wakker spandeer het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.