Outa: ‘Verlenging van e-tol-afslagtydperk voorspelbaar’

Argieffoto

Argieffoto

Die Organisation Undoing Tax Abuse (Outa) het Vrydag gesê dit was “te verwagte en voorspelbaar” dat die tydperk waartydens motoriste 60% afslag op hul e-tolrekeninge kan kry, verleng sou word.

Dipuo Peters, die minister van vervoer, het Donderdag ʼn bykomende tien werksdae toegestaan waartydens padgebruikers van ʼn aanbod gebruik kan maak om 60% afslag op hul bestaande e-tolrekeninge te kry. Die aanbod is nou tot Dinsdag 17 Mei geldig.

Die vorige sperdatum vir hierdie aanbod was 2 Mei.

Wayne Duvenhage, voorsitter van Outa, het gesê hulle is verheug oor die ondersteuning wat die organisasie van die publiek ontvang het en die feit dat die meerderheid motoriste steeds weier om e-tol te betaal. Volgens Duvenhage het Outa se lidmaatskap met ʼn paar duisend oor die afgelope paar weke gegroei.

“Ons is bemoedig deur die aantal organisasies en burgers buite ons lidmaatskapbasis wat kies om hulself te verdedig teen [e-tol]dagvaardings,” het hy gesê. Hy het gesê dit is nie verbasend dat die nasionale padagentskap (Sanral) sy sperdatum vir sy 60%-afslagaanbod uitgestel het nie, gegewe dat die meeste motoriste nie van die aanbod gebruik gemaak het nie.

“Sanral se onlangse besluit om ʼn paar uitverkore motoriste te dagvaar wat versuim om te betaal, is ʼn poging om die publiek die skrik op die lyf te jaag ten einde van die afslagaanbod gebruik te maak. In werklikheid is die stelsel verwerp en die ondersteuning daarvan heeltemal te min om dit na ʼn volhoubare een om te skakel,” het Duvenhage gesê.

“Alle navorsing en bewyse dui daarop dat die publiek die stelsel in beginsel verwerp en nie net oor finansiële redes nie.”

Duvenhage het gesê die publiek het oorgenoeg rede om Sanral nie te vertrou nie. Daarom sal Outa enigiemand ondersteun wat vir hul regte opstaan en volhou dat die e-tolstelsel op ʼn onwettige manier ingestel is. Outa sal ook regsverteenwoordiging vir enige van sy lede gee wat vir uitstaande e-tolrekeninge gedagvaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

humor ·

Die goed moet van ons paaie verwyder word, want le net beslag op ons vryheid in ons eie land. Wonder in watter mate guptas hierby betrokke is.

Cherokee ·

Ag jong, netnou sal die kat se kleintjies ook voor die Guptas se deur gelê word. Of die ouens wat kort kort met ‘n nuwe storie oor Siener Van Rensburg te voorskyn kom sal een van die dae vertel dat Oom Siener van die Guptas vertel het.

FC ·

Sanral (en regering natuurlik) het baie foute gemaak.
Een fout is die rekenings wat hul uitstuur. Jy moet die tolgeld betaal aan die “Sanral Violation Centre”.
Ek het niks ge-violate nie. Ek het die pad gery en as daar tolhet was, sou ek betaal het.
As die rekening eerstens nie beweer ek het ‘n violation gepleeg nie, sou hul alreeds beter gedoen het.
Ek bly steeds ook verbaas dat almal eers regtig begin kla het met implementering. Daar was berigte jare voor die tyd dat dit oppad was.

Loeis ·

Wat is die status van Vryheidsfront Plus se klagte by die verbruikers komissie? Kan OUTA nie dalk die kommissie met ‘n hofbevel dwing om nou die klagte af te handel nie?

Liewe heksie ·

Toemaar ek kry soma rekenings van hulle met n kar wat nie soos myne lyk nie maar wel my nr plaat en wragtag ek belowe daai pad het ek nie gery nie ek verlaat nie eers Pretoria met my kar nie dit is nouwel nie n plaas se prys nie maar ek wil dit nie betaal nie!

Cherokee ·

Jou kar Liewe Heksie? Hehe… hehee.. so jy noem jou besem nou jou kar :-)))

Lance ·

Mens moet maar snelweg ry want die regering kannie mens se veiligheid waarborg op die alternatiewe roetes nie ….so vir eie veiligheid moet mens maar snelweg ry

Will i am ·

Hul wil my dagvaar vir iets wat wk nie gekry het nie. Hoe werk dit. Ek ontvang geen rekening. Hoe moet ek iets betaal wat ek nie eers weet hoeveel nie.

Johannes Meintjes ·

My eie skriftelike voorleggings rondom padgebruik vir gemeenskapsdiens of vergunning onder sekere inkomstevlakke (buiten taxis, busse en besoekers wat vrygeskeld is van hierdie korrupte en onetiese Gauteng e-Tol stelsel) het nog geen antwoorde opgelewer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.