Outa vra dat Dlamini ondersoek word

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het ʼn beroep op die openbare beskermer (OB) gedoen om stappe te doen teen Bathabile Dlamini, die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, en die departement oor twyfelagtige kontrakte wat Outa beweer maande gelede reeds beëindig moes gewees het.

Outa beweer die kontrakte is onregmatig, nie voor begroot nie, en met opset bewillig om surplus geld in die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) te absorbeer.

Outa het Dinsdag in ʼn verklaring gesê hy glo Dlamini het die parlement om die bos gelei in haar antwoorde oor die kontrakte om Sassa se oortredings weg te steek. “Haar antwoorde is nie eerlik, direk óf deursigtig nie,” het Dominique Msibi, Outa se portefeuljebestuurder van spesiale projekte, gesê.

Die organisasie beweer die kontrakte spruit uit die Project Mikondzo Event Management Services en die Integrated Community Registration Outreach Programme (ICROP) wat albei deur Sassa bestuur is en onder die departement van maatskaplike ontwikkeling geval het.

“Die hoofbegunstigde van die twee kontrakte was Azande Consulting CC, wat die enigste van 23 bieërs was wat as diensverskaffer van die ICROP-projek geakkrediteer was. Azande was ook een van slegs twee bieërs wat geakkrediteer was vir die Mikondzo-projek.

“Outa het betalings van R235 miljoen aan Azande nagespoor tussen Junie 2016 en Augustus 2017.”

Outa beweer die parlement het onmiddellik sy bekommernisse oor die aangeleentheid uitgespreek, maar is deur die minister uitgelag. Volgens hulle is die eintlike probleem, naamlik waarom Sassa enkelkontrakte toegeken het in plaas daarvan om die kontrakte onder ʼn groep diensverskaffers te versprei, nooit aangeraak nie.

“Voormalige min. Dlamini het haar mag misbruik deur openbare geld te vermors en met 17 miljoen van Suid-Afrika se mees kwesbare inwoners se lewe te dobbel. Haar onverantwoordelike, ongrondwetlike gedrag en verontagsaming van haar verantwoordelikhede as minister vereis sterk, beslissende, bestraffende stappe.”

Volgens Outa het hy bewyse aan die OB oorhandig wat aandui dat daar moontlik wanadministrasie plaasgevind het by Sassa tydens die skep en toekenning van dié kontrakte. Volgens die organisasie dui die bewyse daarop dat albei tenders toegeken is sonder om behoorlike prosesse te volg, asook dat dit vir dienste was wat óf totaal onnodig was óf intern uitgevoer kon word.

Outa doen ʼn beroep op die OB om Dlamini aan die pen te laat ry en die diensverskaffers opdrag te gee om die geld terug te betaal.

Outa het laastens beweer dat hy in Oktober 2017 vir Sassa geskryf en vir ʼn ondersoek gevra het. “ʼn Aanvanklike antwoord van Sassa was dat ʼn ondersoek onderweg was, maar ongelukkig is geen verdere terugvoer ontvang nie. Pearl Bhengu, wat toe as uitvoerende hoof van Sassa waargeneem het, is sedertdien van haar pligte onthef.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Colleen ·

Kan niemand agterkom die vrou is nie bevoeg om te werk nie.

Willie ·

My vraag ook, did regtig nie moeilik om te sien sy is onbevoeg as wat kan kom..

Speedguard ·

Nee dit is nie, sy is die president van die anc vroue liga en dit maak haar die queen ! Daar sal NIKS van kom nie , kyk vir mamma africa winny !!

piper ·

oom zumpie het haar daar hehou en wou niks verkeerd van haar hoor nie. hy het seker sy deel daarvan gekry,

Liberaal ·

Waarom se julle so, omdat sy ‘n vrou is? Onthou, polities korrektheid en alliansie is al wat belangrik onder nuwe liberalisme is, hieronder mag jy nie oor kundigheid vrae vra nie.

John ·

Sy is die suster van x-mev-dr Zuma ons amperse president dus skoonsuster van sy edele ons vorige maar steeds aktiewe prez en dus onaantasbaar…

Pieta ·

Onbevoeg en nog skelm ook soos die meerderhied van haar kollegas in die anc parlement.

Alida ·

Daardie vrou moet NOOIT eers aangestel gewees het nie. GAAN OUTA GAAN ASB. Plaas druk op die treurige OB want hulle is sekerlik kop in een mus.

Oom Kalahari ·

Die dame se verval datum is al lank terug al verby. Gaan asb voluit OUTA, sal graag saam Mev Queen in die pensioene ry gaan staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.