Outa wil Aarto-wysigingswet daag

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Die Organisasie vir Belastingmisbruik (Outa) het gesê hy beplan om die wysigingswetsontwerp op die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings (Aarto) te daag.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar die Aarto-wet onderteken en bekragtig. Dit sal in werking tree sodra die wet in die Staatskoerant gepubliseer is en ʼn aanvangsdatum aangekondig is.

Volgens die wet sal motoriste, wat verkeersoortredings begaan, punte verloor op ʼn merietestelsel wat uiteindelik daartoe kan lei dat die persoon sy rybewys verloor.

Rudie Heyneke, portefeuljebestuurder oor vervoer by Outa, het gesê hulle het ʼn werkswinkel gehou om met die industrie te konsulteer oor die wetsontwerp. Voorleggings is daarna by die parlement ingedien en, nadat die wetsontwerp deur die parlement goedgekeur is, het Outa die president twee keer skriftelik versoek om dit nie te onderteken nie.

“Outa het die wetsontwerp al van die begin af teengestaan en beplan om dit nou grondwetlik te daag,” het Heyneke in ʼn verklaring gesê.

Die organisasie het versoek dat die wysigingswetsontwerp gewysig moet word weens besware dat dit nie padveiligheid sal verbeter nie, logisties moeisaam sal wees om toe te pas tot die punt dat dit moontlik ongrondwetlik sal wees en die weg baan vir korrupsie.

Heyneke het gesê die finale weergawe van die wetsontwerp neem egter nie die besware in ag nie en loodsprojekte in Tshwane en Johannesburg wat die stelsel die afgelope 10 jaar gebruik het, was onsuksesvol.

Heyneke het ook gesê Outa is besorg dat die nuwe wetgewing gebruik sal word om Gauteng-motoriste te dwing om e-tol te betaal – deur dit ʼn oortreding te maak om padtekens te ignoreer, wat borde insluit waarop e-tolkoste aangedui word.

“Die fokus moet op padveiligheid wees, nie ʼn administratief ingewikkelde stelsel wat ten doel het om geld in te samel nie,” het hy bygevoeg. “Ons het oplossings oor padveiligheid nodig, maar hierdie is nie een daarvan nie. Ons wil ʼn wet sien wat werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gert van Wierdapark

Watter loodsprojek is in Tshwane gedoen!?? Al wanneer ons hier verkeersmanne sien, is die wat agter ‘n “krag-boks” by Eldo Park en ook die op die hoek van Willem Botha en Mulder Mile wegkruipertjie speel. Drie tot vier beman/bevrou dan die “uiters gevaarlike 3 punt kruisings” om so hul Kwota kaartjies te kan “skryf”! Dis mos skynbaar te moeilik om rooi verkeerslig-oortreders op die plek van oortreding vas te vat!!!

Anoniem

Nog n manier om geld in te samel vir die korruptes wat bak hand staan en nie genoeg kan kry nie. Waar gaan dit eindig? Die publiek is al voos van al die gemors……………………..

Coco

Dit sal net die korrupsie bevorder en sekerlik sal mense steeds ry al is sy lisensie opgeskort dis mos Afrika hier geld min wette wat gehoorsaam word

Idee

Die stert swaai die hond. Meriete punte werk net in ontwikkelde lande, maar erens moet n begin gemaak word. Hier is n alternatiewe beginpunt: jy mag slegs n kar koop met bewys van versekering. En heruitreik v motor lisensie met fica EN bewys van versekering op datum. Dit sal jou laat dink voor jy jaag. Punte kan later bykom.
Idee 2: En as jy wil stem by n stembus, bring jou nuutste bewys van SARS opgawe saam met jou ID en jy kry n stembrief.

Skoolgeld

Nog ñ paar miljarde rande in die drein af gan geen verskil aan ons SA nasie maak nie! “Bring it on” ons is nie skaam om belasting te betaal nie