Outistiese seun verdwyn uit tehuis

Smanga (Foto: Verskaf)

’n Soektog na ’n 11-jarige outistiese seun is Dinsdagmiddag van stapel gestuur nadat dié kind Dinsdagoggend uit ’n versorgingstehuis naby Stanger in KwaZulu-Natal vermis geraak het.

Die seun, in die stadium slegs as Smanga bekend, is ’n inwoner van die Inqolobane-tehuis vir liggaamlik en verstandelik gestremde kinders in New Gelderland. Hy is omstreeks 11:30 vir die laaste keer gesien voordat hy glo soos mis voor die son verdwyn het.

Smanga is liggaamlik en verstandelik gestrem, reageer nie op ander nie en loop op sy tone.

Dylan Meyrick, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê ’n soekgeselskap soek vanaf gistermiddag omstreeks 16:00 na Smanga nadat personeel van die tehuis hom teen die middag se kant nêrens kon opspoor nie. Daar is dwarsdeur die nag na Smanga gesoek en die soektog is vanoggend hervat.

Meyrick vertel dat talle gemeenskapslede ook help soek na die jong seun. “Ons het mense wat in voertuie rondry, ander is weer te voet op soek na hom,” sê hy.

Die soektog word egter bemoeilik deur aanhoudende reën en veroorsaak dat die soekgeselskap nie ’n helikopter en mikrovliegtuig wat tot hul beskikking is in dié stadium kan inspan nie.

Volgens Meyrick oorweeg die polisie alle moontlikhede wat Smanga se verdwying kan verklaar. Daar word vermoed dat hy te voet van die tehuis verdwyn het. Die polisie, IPPS Medical Rescue asook ’n honde-eenheid is ingespan om na die seun te soek.

Meyrick sê hy is nie seker of enige van Smanga se naasbestaandes al van sy verdwyning ingelig is nie. Hy vertel dat die meeste kinders in die tehuis wees gelaat is.

Smanga is die laaste keer gewaar met ’n grys baadjie en ʼn blou broek aan. Hy was kaalvoet.

Enige iemand met inligting wat met die soektog kan help, kan sers. Odayar skakel by 084 438 9869 of die polisie by 0800 10111.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Estelle ·

Ons druk ons ouers in ñ tehuis en ons gestremde kinders in ñ gestig. Alles om nie verontrief te wees nie. Ongeag die onwrigting wat “sulke” kinders in jou lewe veroorsaak, IS en BLY dit die ouers se verantwoordelikheid. Ons val vir ñ populistiese kultuur van gerief wat gedien word. Niemand sal die sorg en aandag kan gee wat ñ ma en pa kan gee nie. Niemand anders kan ooit soveel belê in ñ kind soos ouers nie. Die kennis en vaardighede van oupas en oumas kan nie vervang word nie. Maar daar is nie vir hulle tyd meer nie.
Dit maak my so hartseer, hierdie arme kind, die verwarring wat hy moet ervaar.

elsa ·

Estelle, my moeder het alzheimers en my volwasse kind is verstandelik gestremd. Nadat ek hulle vir jare in my huis versorg het, met ‘n careworker wat bedags gehelp het terwyl ek werk, het ek besef dat ekself in ‘n gestig gaan beland as ek nie voltydse hulp kry nie. Finansieel is dit ‘n nagmerrie maar hulle is nou saam in ‘n tehuis naby my en ek besoek hulle elke tweede dag, maak seker dat hulle goed versorg word en dat hulle weet hulle is nog steeds my grootste liefde en prioriteit. Maar die skuldgevoel sal seker altyd bly.

Estelle ·

Elsa, die skuldgevoel sal altyd bly. Altyd. Ons dieselfde deur met ñ oumatjie. My kind het ernstige breinbeserings opgedoen. Die skuldgevoel gaan nooit weg nie. Ek oordeel nie, ek stap die pad daagliks. Daar is ñ orde wat Abba geskep het, ons mense wyk daarvan af.

Lee ·

Is daar geen sekuriteit om te kyk dat die kinders veilig is nie??? Hoe kan hy net uitloop? Waar is die werkers gewees?? Die arme kind. Ek hoop regtig hy word gou gekry en dat hy ok is. Dis verskriklik vir so kind.

jakes ·

Estelle, ek beaam alles wat jy se. Die seuntjie is weerloos en hoe kon hy net sommer verdwyn? Hy is nou die prooi van gewetenlose misdadigers daarbuite en hy kannie himself verdedig nie.

Willie ·

Dis baie sleg, en uiters swak! Ek kan my nie indink waste varwarring die kind moet ervaar nie..

Anoniem ·

Waar was die toesighouers.? Hierdie kinders het baie spesiale aandag en beskerming nodig.

Essa ·

Elsa, jy weet dat jy presies die regte ding doen in jou eie omstandighede en dat geen twee situasies dieselde ge-oordeel kan word nie. Besweer die lastige skuldgevoelens met die wete dat net jy hier die beste weet. Liefde en sterkte en sommer ‘n medalje vir jou vir getrouheid en sorg.
Mag die verlore seun spoedig gevind word – hy verstaan heel moontlik nie wat hy tans ervaar nie.

GM ·

Elsa, sterkte aan jou. Jou besluite is gemaak uit liefde uit. Die feit dat jy jou ma en seun so gereeld besoek, sê baie.
Dis maklik vir ander om te oordeel as hul nie in jou skoene staan nie. Dis een ding om iemand wat helder van verstand is te versorg, vs iemand wat PERMANENT versorging nodig het. Iewers langs die pad gaan mens hulp nodig hê. En jy het na twee gekyk en nog gewerk! Ek haal my hoed af vir jou. Dalk kan dié wat so oordeel, vir ‘n maand ná werk, in so ‘n versorgingsplek gaan werk, daarna sal ek graag weer hul opinies wil hoor?

Ek hoop die seun word spoedig gevind. Ek sou dink dat sekuriteit beter sou wees by so ‘n plek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.