OUTsurance-puntsman stabiel ná 1000 bysteke

Die stormwaterpyp vanwaar die bye gekom het in die voorgrond. Venter het by die kruising in die agtergrond gestaan. Foto: Copwatch / Facebook

Die stormwaterpyp vanwaar die bye gekom het in die voorgrond. Foto: Copwatch / Facebook

Omstanders moes Dinsdagmiddag inderhaas ʼn plan beraam om Gert Venter, ʼn 68-jarige OUTsurance-puntsman van Centurion, se lewe te red nadat ʼn swerm bye hom aangeval het.

Braam Kruger, ʼn woordvoerder van Emer-G-Med, het Woensdag aan Maroela Media gesê paramedici kon nie naby Venter kom nie, omdat daar te veel bye was. “Ons het die bye met ʼn DCP- brandblusser verdryf en Bertus Myburgh van Copwatch, het met sy bakkie in die swerm ingery,” het Kruger gesê. “Venter het toe self agterop die bakkie geklim en Myburgh het van die swerm af weggejaag.”

Sowat 2 km van die toneel is die res van die bye weer met die brandblusser verdryf en kon Venter in die ambulans klim om behandeling te ontvang.” Hy is in ʼn ernstige maar stabiele toestand na die 1 Militêre Hospitaal geneem. Hy is nagenoeg 1 000 keer deur die bye gesteek.

ʼn Paramedikus van ʼn ander ambulansdiens en ʼn voetganger is ook deur die bye aangeval, maar is nie ernstig beseer nie.

Venter was tussen 15 en 20 minute lank in die swerm vasgekeer voor hy gered is.

Maroela Media het Dinsdag berig die voorval het omstreeks 17:30 op die hoek van Piet Hugo- en Ruimteweg in Centurion plaasgevind, waar Venter diens gedoen het.

Colleen Bekker, die uitvoerende hoof van OUTsurance Traffic Freeflow, het Woensdag aan Maroela Media gesê Venter sterk aan in die hospitaal. “Hy was Dinsdagaand in ʼn skoktoestand en sy dokters was baie bekommerd,” het Bekker gesê. “Vandag gaan dit beter met hom, maar dit gaan glo nog ʼn wyle duur voordat hy ontslaan word.” Sy het gesê Venter het die meeste bysteke aan sy arms, bolyf en gesig opgedoen.

Venter werk as ʼn puntsman vir OUTsurance sedert die inisiatief in Pretoria van stapel gestuur is.

Die bye het hom vanuit ʼn stormwaterpyp naby die kruising aangeval. Die bye was teen Woensdagmiddag nog steeds in die pyp.

Bekker het gesê die bye moet eers verwyder word voordat ʼn ander puntsman na die kruising gestuur gaan word. “Ons het dit by die Tshwane-metro aangemeld en wag nog vir verdere inligting,” het sy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adele Harmse ·

Ek gebruik daagliks daardie kruising oppad na my kind se kleuterskool, en daar was n tyd wat Oom Gert nie meer daar diens gedoen het nie. Mens het hom gemis, want hy is vriendelik, vinnig en effektief. Was soooo bly toe ons hom weer aan diens sien! Mag hy gou gesond word en ek bid dat 1 Mil hospitaal mooi na hom sal omsien. Ons waardeer Oom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.