Overberg-brand begin op staatsgrond

‘n Ondersoek na die oorsaak en oorsprong van die brand is van stapel gestuur. (Foto: Enviro Wildlife/Facebook)

ʼn Ondersoek na die afgelope week se brand in die omgewing van Kleinmond is reeds van stapel gestuur. In hierdie stadium lyk dit boonop of die brand op staatsgrond van die departement van omgewingsake, bosbou en visserye uitgebreek het.

ʼn Inwoner van die gebied sê daar is kommer oor die talle mense wat in die woude in die omgewing inglip en daar vure maak of plak. Die gebied word glo ook vir sekere inisiasierituele gebruik en vure wat dié groepies maak, kan weens die massa materiaal wat maklik brand, tot groot veldbrande lei wanneer dit begin spring.

Die gebied word glo nie behoorlik bestuur nie en daar is weinig beheer oor wie daar kom en gaan.

Dr. Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, sê die departement neem met kommer kennis van berigte dat die brand op staatsgrond ontstaan het. “Die brandbeskermingsvereniging in die Overberg-gebied sal ʼn verslag met die feite oor die oorsprong van die brand saamstel,” sê sy.

“In die belang van openbare aanspreeklikheid, het die direkteur-generaal van die departement die waarnemende hoof van SANParke gevra om ʼn assessering van die Kleinmond-brand te doen. Die dienste van SANParke is ingeroep omdat hulle die interne kapasiteit het om ʼn ondersoek van hierdie aard te doen.

“Die omvang van die assessering sal die oorsprong en oorsaak van die brand insluit, of daar brandstroke was en ander voorsorgmaatreëls getref is, asook enige ander faktore wat moontlik die brand kon vererger,” sê Creecy.

Die bevindings van die verslag sal na afloop daarvan bekend gemaak word.

Dr. Annelie Rabie, burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, sê teen Dinsdag omstreeks 13:00 is 95% van die brand in bedwang gebring. Dit woed sedert Saterdag en die hulp van tientalle brandbestryders was nodig om die situasie onder beheer te bring.

Die brand in die gebied is vererger deur hoë temperature en sterk wind en het vermoedelik veel kwaaier gebrand in gebiede met uitheemse plantegroei. Die fynbos is egter afhanklik van vuur om voort te plant en te floreer.

Sowat 10 ha aangeplante fynbos is deur die brande geraak.

Boere in die omgewing – benewens die veld wat gebrand het – het nie enige ander ernstige skade aangemeld nie. Rabie sê die beperking van skade is grootliks te danke aan die optrede van boere, nooddienste en brandbestrydingsorganisasies.

Die brand woed sedert die naweek en was teen Dinsdagmiddag byna heeltemal in bedwang. (Foto: Enviro Wildfire/Facebook)

“ʼn Reusepoging van die Overberg-distrik, CapeNature, die Overstrand-munisipaliteit, die bosbousteunprogram en ons Laer Botrivier-brandbestuurseenheid het ʼn voorbrand op die berg van die R43 tot by die Perdeberg-natuurreservaat – bo die Tokara-wingerde – gemaak,” sê Rabie.

“Dit het gekeer dat die brand na die plase versprei en daar was beperkte skade.”

CapeNature het vanoggend een van die laaste oorblywende brandpunte by Perdeberg onder beheer gebring nadat daar sedert vroegoggend brandbestryding uit die lug gedoen is. Aflosspanne het die laaste vlamme help blus.

In die omgewing van Karwyderskraal, plaasgrond in die rigting van Babilonstoring, woed daar tans geen meer aktiewe brande nie en brandbestryders was ʼn ruk gelede besig met die laaste opruimingswerk.

Ook by Rooisand word voorbrande gemaak om te verseker die gebied is veilig. By Heuningkloof is daar geen meer aktiewe brandlyne nie en brandpunte word hanteer. Voertuie bly by die Arabella-landgoed om enige opflikkering in bedwang te hou, indien dit sou gebeur.

Die departement het intussen die brandbestryders geloof vir hul harde werk om die brand in bedwang te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

007 ·

Gee die staatsgrond vir die lot, dalk los hulle die boere se grond uit. Mal emma en kie.

Henk ·

Ondersoeke en kommissies lewer nooit iets nuuts nie, dit kos net geld. Wanneer gaan hulle leer? Die oplossing is: Verbied alle plakkers en “rituele” op die grond en maak voorbrande. Die resultaat gaan onmiddelik gesien word.

JL ·

Nog ‘n verslag, nog ‘n dokument wat vergete gaan opeindig êrens! Net weer ‘n papier oorlog. Klim in julle ampsvoertuie. Gaan kyk persoonlik wat gaan aan en vat sommer julle entourage saam. Die risiko faktore is mos uitgewys. Look, listen, learn and start working.

minnie muis ·

die klomp ken nie daai laaste sin nie…. hul ken net kfc uitstappies

Blikkies ·

Al weer die PAP VROT ANC regering, maar die mense sal wragtig bly stem vir die paloekas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.