Overberg-brand: Brandbestryders veg steeds teen vlamme

Dik rookwolke van die naderende vlamme kan gesien word by Franskraal (11 Januarie 2019). Foto: Facebook

Altesaam 31 huise is heeltemal verwoes en nog 28 huise beskadig in die wegholbrand wat Vrydag by Bettysbaai in die Overberg-distrik gewoed het.

Theo Layne, brandweerhoof van Stad Kaapstad, sê ʼn finale inspeksie van alle huise in die dorp is Vrydagnag gedoen om seker te maak dat alle inwoners ontruim is, terwyl die laaste vlamme nog geblus is.

Layne sê daar is na raming meer as 12 800 ha veld ook deur die brand verwoes. “’n Studie oor die volle reikwydte van die brand sal gedoen word om te bepaal hoeveel van die skaars en bedreigde floraspesies geraak is. Brandbestrydingspanne sal nog ʼn geruime tyd op die toneel wees om seker te maak dat die vuur heeltemal geblus is. Die reën wat deur die nag geval het, het gehelp om die brandgebied aansienlik af te koel,” sê hy.

Clarencerylaan (R44) is Saterdag in die vroeë oggendure heropen en tans is geen paaie in die gebied gesluit nie.

“’n 71-jarige man is ernstig beseer terwyl hy sy huis [in Bettysbaai] ontruim het. Ons gedagtes is by hom en sy familie in hierdie moeilike tyd,” lui ʼn verklaring van die Overstrand-munisipaliteit. Die brandbestryding en skoonmaakpogings sal nog vir etlike dae in Bettysbaai aan die gang wees en brandbestryders hou ʼn wakende oog oor plekke wat dalk weer kan opvlam.

‘n Brand woed by Bettiesbaai (11 Januarie 2019). Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig inwoners van Bettysbaai, Franskraal en Karwyderskraal is Vrydagmiddag opdrag gegee om dringend hul huise te ontruim aangesien die brande in hierdie gebiede buite beheer was. Sommige inwoners het hul besittings uit hul huis probeer dra, maar moes uiteindelik handdoek ingooi en met net die nodigste die gebied verlaat.

Die munisipaliteit het om 10:30 gesê die brand in die Hermanus-gebied is gedeeltelik beperk, maar daar is steeds ʼn hoërisikogebied wat woonbuurte, plase en bewaringsgebiede bedreig. Brandbestryders is tans op die toneel besig om die brand te blus en nog lugondersteuning is op pad na die gebied.

Die munisipaliteit sê baie sterk winde het die situasie Vrydag erg bemoeilik met die brand wat oor Bettysbaai en in die woonbuurte in gewaai is. Twee brande in die Karwyderskraal-gebied is deur die wind aangeblaas tot in die Hemel-en-Aarde-vallei en oor die berg in die rigting van Northcliff, Hermanus.

Die wind was so sterk dat brandpaaie geensins gehelp het om die vlamme te stuit nie. Boonop het die stormsterk winde ook verhoed dat lugondersteuning gelewer kon word om die brande te help blus. Kragonderbrekings en kommunikasienetwerke wat buite werking was, het die situasie net nog verder bemoeilik.

Dik rookwolke van die naderende vlamme kan gesien word by Franskraal (11 Januarie 2019). Foto: Facebook

In Franskraal baklei brandbestryders steeds teen die vlamme. Volgens die munisipaliteit het dit vanoggend hoog bo die R43 in die berge gebrand en word die vlamme tans ook vanuit die lug geblus. ʼn Nuwe span brandbestryders is vanoggend by Franskraal ontplooi en daar is tans 12 brandbestrydingsvoertuie en 37 bemanningsgroepe op die toneel.

Volgens die munisipaliteit is twee strukture in Franskraal deur die brand beskadig en vyf houtstrukture heeltemal verwoes. ʼn Volle assessering van die skade moet nog gedoen word.

Hoewel daar op sosiale media wyd bespiegel word dat die brande deur brandstigting veroorsaak is, kon die owerhede dit nie teen Saterdagmiddag bevestig nie. Die oorsaak van die brande sal ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

John ·

Dit is duidelik dat iemand bly is dat die wereld brand. Of dit die brandbestryders se erns was of is om dit onder beheer te kry, is ‘n ope vraag. Miskien moet versekeraars die saak ondersoek. Indien daar onder die bestryders mense is wat net daar is vir die geldjies en die lekkernye en wit eiendom in rook wil sien verdwyn, moet hulle vervolg word. Dis ‘n gepoerpoer met dodelike gevolge.

Karin ·

Dis.ongelukkig die waarheid! En die waarheid sal.altyd.seevier! Mag.die.mense.van hierdie.S.A. besef, as jy n hart het wat in die “slegte” verheug is, is jy.verlore en jou.land.kan nie.op.jou staat.maak.as.burger wat.opreg.moet wees, waar.so.baie die teenoorgestelde.is! Moenie slegte “hero” navolg.nie!!!

Naas Vermaak ·

Waar kom jy aan jou feite? Ek ken baie van die brandbestryders persoonlik…..jy praat absolute onverantwoordelike snert…nee man, skaam jou!

Elza ·

Was jy daar? Het jy die mense gesien baklei teen wind en vlamme? Weet jy hoe moeg is hulle al? As jy feite het, gee dit. Anders bly liewer stil.

Nick ·

Wragtig!!!!! Die arme mense se huise en eiendom is verwoes maar die ANC hou partytjie in Durban ???? Hoe hulle nog die land regeer weet geen mens nie. Wanneer gaan die keerpunt kom?? Is ons mense regtig so bang en hulpeloos??

Amanda ·

Ek is so jammer vir al die mense wat eiendom in hierdie brande verloor. En die skade aan die natuur is verskriklik; al die diere wat nie betyds voor die vuur kan uitvlug nie, veral die skilpadjies.
Sekere fynbos moet blykbaar brand om voort te bestaan, maar dit vat jare vir die veld om weer reg te kom en die berge lyk so dood en swart gebrand ná hierdie verwoestende vure. As opsetlike brandstigting die oorsaak is van die vuur by Franskraal, hoop mens die siek mense verantwoordelik daarvoor word gekry en vervolg.

Ken ·

Terence April is die verdagte agter die Bettys Baai brande. Hy’t oujasrsaand ‘n flare in die Kogelbergnatuurreservaat ingeskiet. Feit. Die Franskraal brande word beweer is agv betogers wat brande gestig het. Bespiegeling tans. Winde als vererg. Kom van Hermanus af.

Ken ·

Skuus, regstelling. Shelton April, 34 jaar oud, in hegtenis geneem vir Bettys Baai brand.

DA BO ·

Ek loop al heeldag met n hart wat huil. Daar is mense hier op maroela wat waaragtig sê dat brandbestryders te veel geld kry en dat hulle nie die vure doodmaak oor geld. Weet hierdie mense dat helfde van daai mense vrywillig vuur beveg. My seun het vir lank sonder betaling die brandweer vrywillig gehelp. Hulle stel hulle eie lewe in gevaar om die vure te bestry. So skaam vir julle. Skaam julle voor julle God. Julle is suur mense met niks anders om te doen as om ander sleg te se nie.

Amanda ·

@DA BO – Dis eers as jy met jou eie oë ‘n vuur oor ‘n brandpad sien spring met ‘n wind van 90km per uur dat jy besef hoe verskriklik vinnig dit versprei en hoe onmagtig jy is om dit te stop. Dit is ongelukkig onkunde en kleinlikheid wat dom stellings veroorsaak. Troos jou daaraan, dié wat weet waaroor dit gaan en weet hoe lyk dit waar hierdie mense hulle lewens waag, is oneindig dankbaar vir alle brandslaners en brandweermanne se werk.

Saartjie ·

Natuurlik word brande met opset veroorsaak!!! Cherokee jy is skerp?

Saartjie ·

Natuurlik word brande met opset veroorsaak… wie weet dit nie???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.