Overberg-brand: Pad weer oop; brand nog nie onder beheer

Overberg-brand (10 Januarie 2022) (Foto: Rasaad Adams)

Die R44 tussen Heuningkloof en die Kleinmond-kruising op die R43 is Maandag laatmiddag weer oopgemaak. Dié paaie is vroeër gesluit weens ʼn brand wat Saterdag in die Overberg in die Wes-Kaap uitgebreek het.

Dr. Annelie Rabie, Overstrand-burgemeester, het versoek dat padgebruikers hul voertuigligte moet aanskakel en dat hulle nie moet stilhou om foto’s te neem nie. “Dit is ʼn ernstige brand en nie ʼn toeriste-aantreklikheid nie,” het sy benadruk.

Maroela Media het vroeër berig die brand het Saterdag uitgebreek en woed tussen die berg en die R44 in die rigting van die Arabella-gholflandgoed.

Die brand het nou egter verby Arabella versprei aan albei kante van die R43. Aan die regterkant (seekant) van die R43 het die brand tot by die strandmeer, net verby Rivendell, versprei. Aan die linkerkant van die R43 het die brand verby Karwyderskraalpad versprei. Die omvang van dié brandlyn is nog nie bevestig nie.

Geen strukture is in hierdie stadium op die Arabella-landgoed beskadig nie, maar daar is brandskade aan die voetpaadjies en tuine. Die omliggende veld en eiendom is ook deur die brand geraak.

Die brand het ook aan albei kante van die R44 gebrand met die meeste ekologiese en landbouverliese aan die bergkant van die pad.

“Ons probeer steeds om die omvang van die skade te bepaal aan die natuurreservaat, die gholfklub en landerye,” het Rabie gesê.

Die brandlyn bo Kleinmond is in die Perdeberg-natuurreservaat van bo die dorp tot by die piek. Die rugkant van die reservaat is suksesvol afgesluit en verhoed dat die brand na Elgin/Highlands versprei.

Daar is tans 200 brandbestryders en personeel en vyf helikopters op die toneel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Karina

Sterkte en groot dankie aan die brandbestryders wat in daardie haglike warm omstandighede werk. Ons hoop en bid dat die brand gou onder dwang gebring sal word en julle ‘n verdiende rus kan kry.