Overberg-brand woed steeds; R44 gesluit

Foto: Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging (Via Facebook)

Brandbestryders veg steeds onverpoosd teen die brande aan die Overbergkus in die Wes-Kaap wat op Nuwejaarsdag begin het vermoedelik nadat iemand ʼn fakkel in die gebied afgevuur het.

Die Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging het Saterdagaand in sy jongste verklaring gesê twee brande word tans bestry, een onder Bettiesbaai en een by die R44 Clarensrylaan naby die grens tussen die Overstrand-munisipaliteit en Stad Kaapstad.

Die vereniging het bevestig hoewel die omvang van die skade nog vasgestel moet word, is die brand steeds binne die grense van die Overberg Munisipaliteit. Brandbestryders se fokus is tans om die brand te beperk en verdere verspreiding te verhoed, asook om maatreëls in te stel om infrastruktuur wat in gevaar is te beskerm.

Teen Saterdag 20:00 het die vereniging gesê die brand wat op Platberg woed kan vermoedelik binne die volgende 12 uur in die kloof inbeweeg wat daartoe kan lei dat dit in die botaniese tuin in versprei. “Toegang is ʼn probleem en die meerderheid hulpbronne is in hierdie area ontplooi.”

Die Overstrand Munisipaliteit het Sondagoggend gesê die R44 tussen Rooiels en Gordonsbaai is tans gesluit aangesien die brand aan albei kante van die pad woed.

Grafika: Groter Overberg-brandbeskermingsvereniging (Via Facebook)

Intussen sal ʼn 34-jarige verdagte môre in die Caledon-landdroshof verskyn in verband met die oorsaak van die brand. Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die man is Donderdag omstreeks 10:00 in hegtenis geneem. Hy word daarvan aangekla dat sy optrede gelei het tot die ontstaan van ‘n brand of dat hy ‘n brandende voorwerp iewers gelaat het waar dit sou kon lei tot wegholbrande.

Volgens mediaberigte word die dood van twee vroue tans ondersoek. ʼn Vrou van Pringlebaai het Donderdag vermoedelik weens rookinaseming gesterf, terwyl ʼn vrou van Bettiesbaai vermoedelik dood is nadat sy ʼn hartaanval gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ore ·

Waarom word sy naam weerhou? Indien hy skuldig is moet hy die maksimum vonnis kry.

Lana ·

Kan hulle hom nie ook aankla vir die dood van die twee mense nie? Indien dit bewys kan word dat dit wel van die rook is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.