Overberg: Brande plek-plek weer buite beheer

Die Hermanus-brande is nog baie aktief en kon tot dusver nog nie beperk word nie. Foto: Overstrand Munisipaliteit

Die verligting van die reënval Vrydagaand in die Overberg-distrik was van korte duur en brandbestryders moet weereens met alle mag teen wegholbrande baklei.

Die Overstrand-munisipaliteit het Sondagmiddag gesê slegs die brand by Bettysbaai is tans onder bedwang, terwyl die brande by Franskraal en in die Hemel-en-Aarde-vallei weer buite beheer woed. “Hoewel goeie vordering gemaak word, is die Hermanus-brande nog baie aktief en kon dit nog nie beperk word nie. Die brand is tans op die noordelike gedeelte van die berg en daar is op die oomblik geen bedreiging vir woongebiede nie,” sê die munisipaliteit in ʼn verklaring.

“Al ons spanne het gisteraand en vanoggend veilig uit die brandgebiede teruggekeer. Twee brandbestryders moes wel na ʼn mediese fasiliteit geneem word om vir onderskeidelik ʼn geswikte enkel en rookinaseming behandel te word.”

Verkeersbeamptes herlei verkeer waar paaie in die gebied gesluit is. Foto: Kenny Africa

Volgens die munisipaliteit was die situasie omstreeks 14:00 vanmiddag as volg:

  • Bettysbaai: Geen plekke het deur die nag of vanoggend in die Bettysbaai-gebied opgevlam nie. Dagskofbemanning is in Oudebosch ontplooi en infrastruktuur-beskerming word ook in die woonbuurte gedoen wat deur die brand geraak is. Die wind hou steeds ʼn bedreiging in dat die vuur weer kan opvlam. Ongeveer 140 brandbestryders is hier ontplooi.

Krag- en wateronderbrekings kom steeds in Bettysbaai voor. Die munisipaliteit probeer die krag- en watertoevoer herstel, maar word deur tegniese uitdagings gekniehalter. Inwoners is per SMS ingelig oor die ligging van watertenks wat gebruik kan word, terwyl Eskom-tegnici spook om die kragtoevoer te herstel.

  • Karwyderskraal: Brandbestryders moes deur die nag en vanoggend spook om vlamme wat op verskeie plekke opgevlam het te blus. Tans is die brand in die gebied onder beheer en help boere in die gebied baie om dit so te hou.
  • Hemel-en-Aarde/Volmoed: Talle brandbestrydingspanne, waterbomme, helikopters en ander hulpbronne is gister en vandag gebruik om die brande hier te blus. Die plaaslike gemeenskap het ook swaar voertuie en baie ekstra hande ingespan om te help. Volgens die munisipaliteit moet dié brand onder baie moeilike omstandighede bestry word en voortdurende opvlammings bemoeilik die taak nog meer. Die publiek word versoek om die gebied te vermy.
  • Franskraal: Dit het deur die nag en vandag nog erg in hierdie gebied gebrand. Die brand is tans besig om weg van Franskraal af te versprei. Die vlamme het oor die brandbane by Groene Weide gespring en versprei nou vinnig in ʼn oostelike rigting. Dit het reeds oor die Uilkraal‑/Baardskeerdersbos-teerpad gebrand.

Rook kan gesien word waar ‘n brand by Groene Weide woed. Foto: Kenny Africa

Talle hulpbronne word ingespan om die brand onder bedwang te bring en te keer dat dit verder versprei. Brandbestryders is ook by die noordoostelike gedeelte van die brand waar vlamme dreig om verder te versprei. Bo-op die berg word die vlamme beheer en deurentyd gemonitor.

Die R43/Franskraal-aansluiting by Uilenkraalsmond is gesluit, asook die R43 tussen Franskraal en Baardskeerdersbos. Die R43 tussen Hermanus en Gansbaai is tans nog oop, asook al die paaie in die groter Hermanus-gebied en die R44 (Clarence‑rylaan).

Die munisipaliteit het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie rond te ry om die skade te besigtig terwyl skoonmaakaksies aan die gang is nie, sodat die paaie eerder oop gehou kan word vir noodvoertuie om deur te beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Blykbaar gaan van hierdie plekke nooit herstel nie, wat nog van die mense. Wat wag volgende op ons in 2019?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.