Overberg, Kaapse Wynland ergste deur storms geraak

(Foto: Stephane de Sakutin/AFP)

Sedert die uiterste weerstoestande wat die Wes-Kaap tydens Erfenisnaweek getref het, werk die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme hard om die impak van die storm spesifiek op toerisme- en gasvryheidsondernemings reg oor die provinsie te evalueer.

Die departement het ’n aanlyn opname gedoen om vas te stel watter gebiede in die Wes-Kaap en toerisme- en gasvryheidsondernemings die ergste deur die storm geraak is. Altesaam 91% van die respondente wat aan die opname deelgeneem het, was private ondernemings. Die oorblywende 9% was bestemmings in staatsbesit soos parke, botaniese tuine, oorde en kampeerterreine.

Voorlopige bevindings van die opname dui daarop dat die Overberg en die Kaapse Wynland‑distrik die ergste deur die storm getref is. Die skade het wel so ver as George gestrek.

Die vyf dorpe wat die ergste geraak is, is Franschhoek (11,81% van respondente), Kleinmond (9,45% van respondente), Hermanus (8,66% van respondente), Bettysbaai (7,87% van respondente) en McGregor (7,09% van respondente).

Die geraakte eiendomme is hoofsaaklik akkommodasie-geriewe (38% van respondente), restaurante, kroeë of kafees (19% van respondente), wyntoerisme-bestemmings (8% van respondente), roetenetwerke (6% van respondente) en kleinhandelwinkels (6% van respondente).

Altesaam 44% van die respondente het aangedui dat hulle versekeringsdekking het, maar sommige het daarop gewys dat nie alle skade of verliese wat gely is, gedek is nie. Boonop is 26% van die respondente onseker of hulle deur versekering gedek sal word. Altesaam 29% van die respondente word nie vir hul skade of verliese gedek nie.

Altesaam 63% van die respondente moes hul ondernemings tydelik sluit.

Volgens Mireille Wenger, die provinsiale minister van finansies en ekonomiese geleenthede, is dit noodsaaklik vir die Wes-Kaapse regering om soveel inligting moontlik oor die impak van die storm in te samel sodat behoeftes geprioritiseer kan word.

“Daarom wil ek soveel moontlik toerisme- en gasvryheidsondernemings aanmoedig om deel te neem aan die aanlyn opname, wat ons oopgehou het om te verseker dat soveel moontlik belanghebbendes hul insette kan lewer,” sê Wenger.

“Die toerisme- en gasvryheidsbedryf is die afgelope paar jaar werklik geruk, maar ek is bemoedig deur sy veerkragtigheid en unieke vermoë om terug te bons. Die blote volharding van hierdie sektor is merkwaardig – elke mens en besigheid lewer ’n broodnodige bydrae tot ons ekonomie en werkskepping. Ons moet alles in ons vermoë doen om die stormskade deeglik te ondersoek sodat ons enige toekomstige uiterste gebeurtenisse weerbaar kan deurstaan.

“As ons vorentoe kyk, verwag ons ’n goeie somerseisoen, met 215 internasionale vlugte per week na die Kaapstad Internasionale Lughawe vanaf Januarie 2024, teenoor 191 in die vorige seisoen. Om seker te maak dat ons gereed is om besoekers oor die provinsie heen te verwelkom, sal ek later vandeesmaand ’n bedryfsgereedheidsgeleentheid aanbied, wat sleutelbelanghebbendes uit die toerisme- en gasvryheidsektor bymekaarbring om belangrike voorbereidings vir die komende somer te bespreek, insluitend die impak van en opruim na die storm.”

Toeriste-bestemmings kan aan die opname deelneem deur op hierdie skakel te klik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.