Overstrand-brand woed week later steeds

Brandbestryders veg teen vlamme in die Overberg-distrik aan die Wes-Kaapse kus. Foto: NCC Environmental Services en #FireFly (Kishugu)

Brandbestryders swoeg steeds om ʼn veldbrand te bedwing wat al langer as ʼn week aan die Kaapse Suidkus woed.

Die brand het op 1 Januarie in die omgewing van Bettysbaai ontstaan en van daar in Pringlebaai se rigting versprei, sê Theo Layne, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brandweer. Hy sê dit het Sondag noordwaarts beweeg tot in die Moederstad se munisipale gebied nadat dit eers tot die Overstrand-munisipaliteit beperk was.

“Ons grondspanne van 80 brandbestryders sal heeldag en deur die nag op die toneel bly,” het hy Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Twee helikopters sal gebruik word om waterbomme op die vlamme te gooi.”

Hy sê brandbestryders van Stad Kaapstad en die Overstrand-munisipaliteit sal ook ontplooi word langs die R44 – wat van Gordonsbaai af deur Rooiels, Pringlebaai, Bettysbaai en Kleinmond loop – om opvlammings te blus. Die brand het die naweek noordwaarts tot by Kogelbaai langs die R44 tussen Rooiels en Gordonsbaai versprei.

Die Stad Kaapstad is in noue verbinding met Overstrand om hul brandbestrydingspogings te koördineer, sê Layne.

Shelton April, die man wat glo die brand begin het toe hy op Nuwejaarsdag ʼn fakkel afgevuur het, het Maandag in die landdroshof op Caledon verskyn. Hy word aangekla van die oortreding van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

EWN berig wanneer April weer op 14 Januarie voorkom, kan nog twee aanklagte bygevoeg word nadat ʼn vrou van Pringlebaai verlede week aan rookinaseming dood is.

Die Wes-Kaapse polisie het nog nie op Maroela Media se versoek om verdere inligting oor die verdagte gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sedrick Taljaard ·

Hallo Maroela Media,

Graag wys ek julle op twee korreksies in die berig oor die Overstrand-brand:

1. Bettysbaai word met ‘n “y” gespel want die dorp is genoem na ‘n vrou met die naam Betty; en

2. Die brand het by Bettysbaai ontstaan en na Pringlebaai en elders versprei. Nie anders om nie.

Nogmaals dankie vir ‘n uitstekende en betroubare nuusportaal.

Doen gerus so voort en alles van die beste vir 2019. My wens is dat julle baie meer goeie nuus gaan hê om oor te rapporteer as slegte nuus.

Seëngroete.

Sedrick Taljaard
Bettysbaai-inwoner
Sel: 082 827 6074

Tania Heyns ·

Dagsê Sedrick

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.