Overstrand: Polisie versaak grondwetlike plig

Hermanus. Argieffoto

Dit is duidelik dat polisiestasies in die Overstrand nie die vermoë het om inwoners en hul eiendom te beskerm en te beveilig of om wet en orde te handhaaf nie. Die SAPD kom dus nie hul grondwetlike mandaat na nie.

Dít is kortliks die bevinding van die Wes-Kaapse polisieombudsman, JJ Brand, wat gister ʼn verslag in die provinsiale wetgewer voorgelê het. Brand se ondersoek is gedoen op versoek van die burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit wat dorpe soos Hermanus, Kleinmond, Hawston, Stanford en Gansbaai insluit.

Die verslag skets ʼn haglike situasie ten opsigte van polisiëring in die Overstrand en het onder meer bevind dat die SAPD nie protesoptogte kan beheer of perlemoenstropery kan bekamp nie, asook nie die vermoë het om misdaad doeltreffend te ondersoek nie.

Polisievoertuie.

Dit is deels te wyte aan beperkte hulpbronne, maar hoofsaaklik omdat daar nie gehoor gegee word aan gemeenskappe se behoeftes wat betref polisiëring nie. Luidens die verslag is daar ook geen samewerking tussen die polisie en die inwoners nie en geen respek vir misdaadslagoffers of ʼn begrip vir hul behoeftes nie.

Altesaam 84% van alle strafregtelike sake wat in Kleinmond aanhangig gemaak is in 2018-’19 het nie tot skuldigbevindings gelei nie, waarskynlik omdat sowat 61% van die sake teruggetrek is voordat dit in die hof beland het.

In Hermanus is 161 sake teruggetrek en 79% van alle sake het nie tot skuldigbevindings gelei nie. Die verslag sê dit is ʼn bewys dat die SAPD nie die vermoë het om misdaad doeltreffend te ondersoek nie. Daar is ook weinig steun van die misdaadinligting-bestuursentrum ontvang.

Die polisie-eenheid vir openbare orde (POPS) is byvoorbeeld 200 km van die Overstrand af in die Paarl gevestig. Sou ʼn versoek om bystand ontvang word, moet daar dus ver gery word om mense in hegtenis te neem, ʼn dossier te open, die verdagtes aan te hou en dan terug te ry Kaapstad toe.

Daar is ook slegs een waterkanon vir die hele provinsie en die Nyala-voertuie waarmee gery word, is meer in as uit die werkswinkel vir herstelwerk.

Die naaste misdaadrekordsentrum aan die Overstrand is 141 km weg in Somerset-Wes en dit neem minstens 90 minute om met die ondersoek van ʼn misdaadtoneel te begin.

Perlemoen. Argieffoto: SAPD

Ten opsigte van perlemoenstropery is bevind dat dit hoofsaaklik deur sindikate of georganiseerde misdaadnetwerke bedryf word en dat dit in Gansbaai geheel en al buite beheer is.

Inwoners van dié dorp het tydens die ondersoek skrikwekkende bewerings gemaak oor wat met perlemoenstropery gepaardgaan. Jong kinders word onder meer met duur klere en dwelms omgekoop om “runners” vir die stropers te word. Hulle maak nie met skool klaar nie en beland in ʼn web van dwelmmisbruik  wat gesinne uitmekaar skeur, is vertel.

In Gansbaai is soms net een polisievoertuig beskikbaar wat beteken dat die polisie groot en onvermydelike uitdagings moet oorkom om hul werk doeltreffend te kan doen.

Nogtans het die dorp se polisie in hul terugvoer aan die ombud geen melding  gemaak van planne om perlemoenverwante misdaad te bekamp nie.

Dié onderwerp is ook nie deur Hermanus, Kleinmond of Stanford se polisie aangeraak nie, hoewel misdaad wat met perlemoenstropery verband hou eie is aan dié streek.

Die ombud het verder bevind daar was die afgelope drie jaar ʼn groot afname in die beslaglegging van onwettige perlemoen en samewerking tussen die verskillende wetstoepassingsagentskappe is ontoereikend. “Die fokus het duidelik weggeskuif van perlemoenverwante misdaad,” sê hy.

Perlemoen ter waarde van meer as R40 miljoen is weens verskeie misdaadaktiwiteite verloor. Sowat 200 ton gekonfiskeerde perlemoen ter waarde van R106 miljoen word tans gestoor, maar die korrekte hoeveelheid is weens talle inbrake nie bekend nie omdat voorraadopnames nie ná elke voorval gedoen is nie.Die laaste keer dat van dié perlemoen ontslae geraak is, was in Desember 2017.

Die ombud het aanbeveel dat ʼn projek vir die bekamping van perlemoenstropery onmiddellik ingestel word.

Tydens ʼn onderhoud wat Brand met die provinsiale bevelvoerder van die Grens-polisie-eenheid gevoer het, het dit aan die lig gekom dat dié eenheid tot groot mate onderbeman is. Ook wat betref hulpbronne, het die Saldanha-hawe nie een vaartuig om sy mandaat uit te voer nie, terwyl Kaapstad net een vaartuig het, eerder as vyf.

Die verslag het verskeie aanbevelings gemaak, waaronder dat ʼn dringende hersiening van die situasie in die Overstrand gedoen word. Dit sluit die tekort aan voertuie in. Die inwoners se kommer moet ook aangeraak word, veral met betrekking tot polisiekorrupsie en hul onvermoë om die wet toe te pas.

Albert Fritz, die uitvoerende komiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het die verslag verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pierre ·

SA Polisie is bang vir misdadigers en het nie die vermoë om hulle hanteer nie.

ProotGraat ·

En in vreeslik baie gevalle is die SAPS self die misdadigers.

lizzi ·

Ons inwoners is eens, daar is geen poliseering in hierdie area’s nie.

Hanna Hoekom ·

Geloofwaardigheid voor kundigheid! En dan sit ons met die gemors.

Akademi Buktu ·

En wie moet ons bedank? POPCRU – hulle het ‘n leiersrol gespeel om drastiese verswakking in die Polisie (en Korrektiewe Dienste) se werkgehalte te bewerkstellig.

Sarel ·

Sou die ondersoek in enige provinsie stad of dorp in SA deur n behoorlik opgeleide persoon gedoen word sal die selfde resultaat verkry word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.