Overvaal-betoging: 27 verskyn in hof

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is op op pad na die polisiestasie. Foto: Ian Cameron.

Altesaam 27 verdagtes sal Vrydag in die Vereeniging-landdroshof verskyn nadat hulle Donderdag na bewering betrokke was by die gooi van ʼn petrolbom na ʼn polisiewa buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes sal op aanklagte van openbare geweld en die oortreding van die Wet op Plofstowwe verskyn.

Maroela Media het gister berig die oortreders is onmiddellik vasgetrek nadat ʼn petrolbom na ʼn polisiewa geslinger is. Die verdagtes is na ʼn polisiestasie geneem.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan Maroela Media gesê die res van die betogers is agterna na die polisiestasie toe.

Dlamini het gesê die betogers het verder by die stasie betoog, maar dat daar nie enige voorvalle van geweld plaasgevind het nie.

Volgens hom is daar vanoggend sedert 06:30 ʼn sterk polisieteenwoordigheid buite die skool en is die situasie nog kalm.

Die betogings wat Woensdag en Donderdag voor die skool plaasgevind het, hou verband met ʼn hooggeregshofuitspraak vroeër vandeesweek toe die hof beslis het dat die Gautengse departement van onderwys Hoërskool Overvaal nie kan dwing om 55 Engelssprekende leerders by die skool in te neem nie. Maroela Media het vroeër berig die skool het aangevoer hy het nie plek vir nog leerders óf die nodige hulpbronne om dié Engelssprekende leerders te onderrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

MC Goss ·

Nou is die ouers en leerlinge besig met opruiming en skoonmaak in die straat voor die skool en daar is geen media om dit uit te basuin nie.

Jacques venter ·

Ek sien n video waar wit ouers met hokkie stokke wagstaan by die skool.
Los dit eerder vir die polisie, en vermy verdere konfrontasie.

Dries ·

Laat hulle betaal vir die opruiming voor hulle los gelaat word.

Pieter ·

Hoekom bedreig hulle afrikaanse kinders is dit nie wat rassisme werklik is nie.

Pieter ·

Hulle moet by die menseregte komitee aangekla word oor die sing van rasistiese liedere voor die skool

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.