Overvaal: Engelssprekende leerders kry elders plek

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, praat met die media (17 Januarie 2018). Foto: ANA

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Woensdag gesê die 55 Engelssprekende leerders wat by Hoërskool Overvaal in Vereeniging weggewys is, is by Riverside High School, net 15 km daarvandaan, toegelaat.

“Ons het besluit om hulle in een gebied te akkommodeer terwyl ons steeds die regsuitdagings van hierdie saak bestudeer. Nadat ons mekaar oortuig het, het ons besluit om die kinders by hierdie spesifieke skool te akkommodeer,” het Lesufi aan joernaliste op die eerste skooldag van die jaar gesê.

“Ons wou net hierheen kom om deur die distriksdirekteur ingelig te word dat alles dienooreenkomstig gedoen is. Ons wou ook ʼn gevoel kry of die kinders geïntegreer is.”

Lesufi het gesê hy het aan die provinsiale onderwysbeamptes benadruk dat die 55 leerders nie anders as die ander leerders by die skool behandel moet word nie.

“Ons wil nie hê hierdie kinders moet as kinders van [Hoërskool] Overvaal behandel word nie. Hulle is kinders van Suid-Afrikaners en moet as sodanig by die klasse geïntegreer word. Hulle moet nie hulle eie klas hê asof hulle deel van ʼn dieretuin is nie. Hulle moet deel van die hele stelsel wees,” het Lesufi gesê.

Minstens twee mense is vanoggend beseer en tien is in hegtenis geneem buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging. Foto: Twitter via @Jonisayi

Lesufi het gesê dit sou beter gewees het indien die kinders by Hoërskool Overvaal toegelaat geword het omdat dit die skool naaste aan hul huise is. Hy het gesê die daaglikse pendel na Riverside High School sal nadelig vir die ouers wees.

ʼn Betoging buite Hoërskool Overvaal het vandag gewelddadig geraak, tot so ʼn mate dat polisiebeamptes skokgranate en rubberkoeëls moet afvuur om die skare uiteen te jaag. Die betoging hou verband met ʼn hooggeregshofuitspraak vroeër die week toe die hof beslis het dat die Gautengse departement van onderwys nie Hoërskool Overvaal kan dwing om die 55 Engelssprekende leerders by die skool in te neem nie.

Maroela Media het vroeër berig die skool het aangevoer hy het nie plek vir nog leerders of die nodige hulpbronne om Engelssprekende leerders te onderrig nie. Lesufi het kort nadat die uitspraak gelewer is gesê die departement sal teen die hofuitspraak appelleer.

Tien mense is tydens die betoging in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

karel ·

Ag asseblief – hy wou moeilikheid maak – soos ook gebeur het – kla die mens aan en kry klaar.

Keelvol ·

So die skole naaste aan my is engels. Hulle moet dan my afrikaans sprekende kinders ook akkomodeer. Hoekom moet ek dan verder ry om my kind in haar taal te laat onderrig?

moeks ·

Waar ek bly is dieselfde geval. Engelse skool so te se op ons voorstoep. Afrikaanse skool heelwat verder. So moet ek nou ook kla dat vervoer te duur is. Ek weet van ‘n ma wat daagliks tussen Randparkrif en Alberton moes ry met haar kind 2 maal per dag. Randparkrif skole het kind weggewys omdat hy in sy matriekjaar was. Geen vergoeding vir haar. Sy het nooit gekla nie, dit met liefde vir haar kind gedoen.

Nancy ·

Naaste ordentlike Afrikaanse Skool is 40km ver … ek werk om my petrol rekening te betaal.

Sonja ·

Dis presies wat ek ook sê. Ek bly oorkant St Mary’s. My kind wil ook soontoe gaan en al die voorregte daar geniet in Afrikaans

Ada ·

Hy het dit onaangenaam vir al die nuwe graad 1tjies in die skool – wit en swart en bruin gemaak en ook vir hulle ouers.
Hy voel ‘n veer vir almal – dit gaan net oor homself.
Hoop hy word aangekla vir die aanhitsing van geweld.

Sdl ·

Dit gaan oor om afrikaans uit te roei. Kom eerder en se reguit wat julle motief is julle lafaards.

Cherokee ·

Sê dit vir hulle in die Zonk. Hulle lees nie Afrikaans nie. Ek dog jy weet dit.

Zelda ·

Snaaks nê Hoërskool Phoenix is nie eers 10km weg van Hoërskool Overvaal af nie en het so baie plek in hulle skool. Maar die 55 kinders is na die verste skool gestuur om ingeskryf te word. REGTIG !!!!!!!!!????????????

jaco ·

ek sien hy sê die 55 kinders is die kinders van Suid-Afrikaners. Wit Afrikaanssprekende kinders is tog sekerlik ook die kinders van Suid-Afrikaners. Dan is ons “menseregte” mos almal dieselfde.
Indien ons wit mense se “regte” dan eintlik minder is, vat dan asseblief ons burgerskap weg, skryf dit ook so in SA se grondwet en deporteer ons dan almal asseblief na ons lande van herkoms.
(of deporteer ons na die VSA en straf so vir Trump oor hy glo lelike waarhede oor Afikalande kwytgeraak het).

damon ·

as die engelse skool voor my voordeur is en die Afrikaanse skool is 20km verder, gaan ek beslis nie elke dag 80km of meer ry om my kind by n afrikaanse skool te kry nie. so leer die kind dat ma en pa maar altyd daar is om te spring as hy of sy daarvoor vra. Kom hy dan eendag in die volwasse lewe, is hy glad nie gewoond aan terugslae en aanpassings nie.

Wat ook al ·

Hulle sê Afrikaans diskrimineer teen hulle kinders…diskrimineer hulle nie teen Afrikaanse kinders nie?

Hendrik ·

Waarom word dar nie hierdie kinders as “Engels” verwys? Hulle het tog seker die reg om net soos Afrikaanse kinders in hulle eie moedertale te kan skoolgaan? Dis mos wat die grondwet “waarborg”?

Lukie Carelsen ·

Wat het van Helen Zille se uitspraak oor kollonialisme geword?

Skielik wil hulle wat Helen Zille van haatspraak beskuldig het onderrig in die Engels, die taal van kolianalisme, ontvang.

So was daar NIKS goeds wat uit kolonialisme voortgespruit het nie? Arme skynheiliges!

Wiehan ·

Wonder net:Terwyl Lesufi sy tyd in die hof oor 55 kinders mors is daar 32000 wat nog nie eers in skole geplaas is nie. DIT MAAK SENSE!!!!

Louisa ·

Die stamp sy voete soos ‘n bedorwe brok wat nie sy sin kon kry nie. Toe werk dit nie so goed nie.

jOHAN ·

Bottom line, daar word teen Blankes en Afrikaans sprekendes ge diskrimineer.
Dis maar hoe dit nou gaan.

Die lot darem..ai.. ·

Klomp moeilikheid soekers wil die Afrikaners van sy regte en kultuur ontneem! Hoekom so gretig om by die presiese skool in te kom?? Moedswilligheid natuurlik! Kon van begin AF na die ander skool toe gegaan het en konflik vermy het maar nee hul will die BLanke Afrikaner opskroef om elke hoek….

Sarie ·

Lesufi wou maar net weer wys wie is baas! Gelukkig het hy hierdie keer ‘n bloedneus gekry. Hoera vir Hoerskool Overvaal

Lolla ·

Skole van enigge taal of kultuur gaan nêrens heen skuif of trek nie, maar jy wat kinders het, kan nader aan die skool trek aangesien jy met jou kind se geboorte al geweet het dat jy eendag n skool elke dag van jou lewe vir baie jare na gaan moet reis.

Magriet ·

Ek is seker daarvan hulle was bewus van die taalbeleid of hulle is ingelig toe hulle wou inskryf by die skool. Die skool het hulle nie geweier omdat hulle swart is nie. Die leerders wil nie in Afrikaans onderrig word nie. So hulle het dan mos self die keuse gemaak.

Besorgde ouer ·

MEC Lesufi ons weet daar is plek in Phoenix en Genl. Smuts. Hoekom het jy die kinders baie verder in Riverside gaan plaas? Die rede is maklik. Om hulle in Phoenix of Smuts te plaas sou ‘n erkenning gewees het dat jy en die D7 direkteur agterbaks opgetree het om Overvaal te destabiliseer en die hele insident vir politieke doeleindes te bereik. My kind se veiligheid is net so belangrik soos die reg van ander kinders om opvoeding te kry.

andrea van vuren ·

Besorgde ouer, jy praat sin. Wens meer mense kan jou kommentaar lees.

MT ·

Hierdie is ‘n goeie funksionerende skool. Geen beplanning geen waarskuwing net hulle wil afdwing en hoekom die taal so Haat. Afrikaans is nie die probleem nie. Hierdie was net om rassehaat aan te hits. Verander AL die skole regdeur dan na Engels dit geld dan ook vir al die ander Afrika tale. Skeer almal onder dieselfde kam!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.