Overvaal: Petrolbom na polisiewa gegooi

Die situasie buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar ʼn betoging Woensdag gewelddadig geraak het, is Donderdagmiddag as “kalm” beskryf nadat ʼn petrolbom vroeër die dag na ʼn polisievoertuig geslinger is. Foto: Ian Cameron.

Die situasie buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar ʼn betoging Woensdag gewelddadig geraak het, is Donderdagmiddag as “kalm” beskryf nadat ʼn petrolbom vroeër die dag na ʼn polisievoertuig geslinger is.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het aan Maroela Media gesê al die betogers wat vroeër by die skool se hekke saamgedrom het, is nou weg.

Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig betogers het vroeër ʼn petrolbom na een van die polisiewaens gegooi, maar het ook gesê die situasie is tans kalm.

“Die oortreders is onmiddellik vasgetrek. Ek is nog onseker presies hoeveel mense in hegtenis geneem is, maar hulle is almal na die polisiestasie vervoer,” het Dlamini gesê.

Cameron het gesê die betogers is almal agterna na die polisiestasie toe.

“Die ouers kon op die veld inry om die leerders te kom oplaai. Ons en die polisie het die betogers weggehou van die leerders af – almal is veilig by die huis. Daar is vandag geen rubberkoeëls of skokgranate afgevuur nie,” het Cameron gesê.

Daar is egter steeds polisiebeamptes buite die skool ontplooi.

Maroela Media het gister berig twee mense is deur rubberkoeëls getref toe hulle die polisie se opdrag om uiteen te gaan verontagsaam het. Betogers het gister motorbande gebrand, gesing en rommel en glasbottels buite die skool rondgegooi. Altesaam 11 mense is gister in hegtenis geneem.

Die betoging wat gister en vandag voortgeduur het hou verband met ʼn hooggeregshofuitspraak vroeër vandeesweek toe die hof beslis het dat die Gautengse departement van onderwys Hoërskool Overvaal nie kan dwing om 55 Engelssprekende leerders by die skool in te neem nie. Maroela Media het vroeër berig die skool het aangevoer hy het nie plek vir nog leerders óf die nodige hulpbronne om dié Engelssprekende leerders te onderrig nie.

Die situasie buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar ʼn betoging Woensdag gewelddadig geraak het, is Donderdagmiddag as “kalm” beskryf nadat ʼn petrolbom vroeër die dag na ʼn polisievoertuig geslinger is. Foto: Ian Cameron.

Die situasie buite Hoërskool Overvaal in Vereeniging waar ʼn betoging Woensdag gewelddadig geraak het, is Donderdagmiddag as “kalm” beskryf nadat ʼn petrolbom vroeër die dag na ʼn polisievoertuig geslinger is. Foto: Ian Cameron.

Die verdagtes wat in hegtenis geneem is op op pad na die polisiestasie. Foto: Ian Cameron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Paul Louwrens ·

Hoekom het die polisie in die eerste plek toegelaat dat dat betogers toegang tot die straat gekry het waar skool geleë is.Kinders se veiligheid is hierdeur in gevaar gestel.Betogers behoort tot ‘n raduis van ten minste 200m van skool gehou word. Enige betoger wie die gebied binne gaan behoort gearresteer te word. Polisie moet die volle mag wat aan hulle gegee is gebruik. Ek wil my nie indink wat kon gebeur het indien daar kinders ernstig beseerof gedood is nie

Liesl ·

As hulle nie eens meer respek vir die polisie het nie, wie kan hulle in toom hou? Net mooi niks en niemand nie. Hulle sal aangaan om te maak net wat hulle wil.

John ·

Waarom nader die skool nie die hof om die betogers op ‘n afstand te hou nie ~ ten minste 2 km ~ anders gaan die probleem groter word. Die leerders ly daaronder en binnekort is iemand dood en die skool afgebrand. Vandale stop nerens nie en takel maar net weer die volgende objek in hulle missie-sonder-visie. Ons dog daar was ‘n hofuitspraak ten gunste van die skool…

Kobus ·

Maar my magties mense,die aanhitser tot hierdie situasie sit en blaas nog van woede maar niemand dring aan dat hy toetree tot die gesprek met die verwoesters nie……kom meneer die LUR,wees n man!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.