Overvaal Stereo groet ʼn groot gees

Johann Malan. Foto: Facebook via Overvaal Stereo

Johann Malan. Foto: Facebook via Overvaal Stereo

Die luistergemeenskap en familie van die gesoute Overvaal Stereo-omroeper, Johann Malan, is verpletter nadat hy vroeër vandeesweek oorlede is.

Sy seun, Pieter Malan, het aan Maroela Media vertel die familie, kollegas en vriende is steeds geskok omdat Johann vroeër laas week nog heeltemal gesond was. Hy is vandeesweek oorlede aan ʼn aneurisme.

Hy was sedert 2001 ʼn aktiewe omroeper by Overvaal Stereo nadat hy sy voltydse werk as makelaar vaarwel toegeroep het. Voor daardie tydperk was hy deeltyds, as stokperdjie, betrokke by radiostasies soos Panorama fm en die destydse Radio Oranje.

“Ons is stukkend. Ek sou in Julie vanjaar trou en hy het so daarna uitgesien. Dit was vir hom baie belangrik om deel te wees van die troue,” het Pieter vertel.

Johann word onthou as ʼn liefdevolle en vreedsame mens. “Ek kan op een hand die kere aftel wat hy met ons baklei het. Hy het ʼn groot liefde vir Afrikaans gehad en ʼn groter liefde vir sy kinders; hy was ʼn afgeronde mens, ʼn Blou Bul-ondersteuner en ʼn wonderlike pa.”

Hy sou in November vanjaar voor die kansel staan saam met sy verloofde, Chrisna Henriksen. Johann en sy vrou is geskei, maar het ʼn sterk vriendskapsverhouding gehad. Buiten Pieter, is hul ander kinders Johann en Adela.

“Hy was die afgelope ruk weer sy ou self en so gelukkig saam met Chrisna. Ons weet nog nie eintlik hoe om dit te hanteer nie. Sy het hom so gelukkig gemaak, dit moet vir haar baie erg wees,” het Pieter gesê.

Hy vertel omdat sy pa graag wou hê hy moet optree as seremoniemeester by sy troue, gaan hy as laaste eerbetoning die bedankings by die begrafnis hanteer.

Die begrafnis vind Maandag 11 April om 14:00 plaas vanuit die AP kerk Viljoenskroon. Almal is welkom by die geleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Lin ·

Ek was 10 jaar inwoner in Parys en was verslaaf aan Overvaal Sterio en onthou Johan as die rustigste mens , altyd nederig dink aan die familie en ook die radio stasie. Ek ook my geliefde verloor en ken die intense seer.

Suzette ·

My innigste simpatie aan sy kinders Johann en Adela, chrisna en Magdel. Het in 1996/1997 saam met hom by Radio Panorama uitgesaai. Was baie geskok om van sy skielike afsterwe te lees. RIP Johann………..

Overvaal Stereo 96.1 ·

“Luister mooi, luister fyn en luister vinnig. Baie welkom by hierdie heerlike Dinsdag die 5de April” sou jy gesê het. ‘n Datum wat vir ons almal nie so heerlik was toe ons die nuus van jou heengaan ontvang het nie. Hoe maal daardie groet van jou net nie deur elkeen van ons se gedagtes nie, want jy kon inderdaad mooi luister, fyn luister en het ‘n bitter skerp humorsin gehad. Altyd reg met ‘n vinnige antwoord. Na 15 jaar is dit nie werklik moontlik om ten volle hulde te bring met hierdie paar woorde nie. Ons kan maar net na al die boodskappe van medelye op die sosiale media kyk om te besef wat jou impak op ons luisteraars se lewens was. Iemand het die opmerking gemaak dat jy ‘n sagmoedige reus was. Dit is treffend want dit som jou menswees mooi op. Overvaal Stereo se verlies is groot met jou heengaan. Meer so die groot verlies in ons harte! Jou positiwiteit en passie vir die uitsaaiwese was aansteeklik. Iets wat waarlik ‘n leemte by ons almal gaan laat. Ons is stil en treur nou soos gelowige kinders en berus ons by die feit dat Sy tyd altyd reg is. Daardie rustige stem van jou is nou letterlik stil, maar ons gun jou die Hemelse rus en vrede. Jy laat net mooi herinneringe na.

Jc de Lange ·

Wees so gaaf en sê vir ons wat gaan nou by ons stasie aan?

Annatjie Jordaan ( Coetzee) ·

Johann, Ek het jou 13 jaar gelede as ‘n gentle giant leer ken en vir my sal jy dit altyd bly. By jou het mens altyd iets geleer. Kon mens net jouself wees sonder pretensies en mens het altyd gelag met jou naby. Dankie vir jou vriendskap en alles wat ek by jou kon leer. Gaan jou baie mis. Jy laat ‘n leemte wat nie gevul sal kan word nie. Annatjie. (Antjies). Gebede met kinders, familie, Chrisna,kollegas en almal wie se lewe op een of ander wyse deur Johann geraak was.

Pieter ·

Aan almal by Overvaal stereo baie sterkte. As mens so nou saam werk kan dit net nie maklik wees nie. Dankie vir ons puik radio stasie – ons voel saam julle. Groete Pieter

HansieSlim3 ·

Rus in vrede Johann.

Wonder hoekom sy 2de vrou wat 10 jaar lank saam hom was nie genoem is nie? Hulle is omtrent ‘n jaar of wat geskei.

Hykie. ·

Jong nou waar is jy nou hansieslim? Wat moet hulle nou van haar sê? Soos jy terreg skryf hulle is geskei, en jy is goed op hoogte met die tydsduur ook. Nee wat ek dink die berig is gepas – glo nie sy soek in alle geval sensasie nie. Dis bietjie af.

Estelle Fourie ·

HansieSlim sy is nie genoem nie want sy was nie meer deel van die prentjie nie. Dis mos duidelik. Sterkte aan sy verloofde en kinders en die mense wat daagliks saam hom gewerk het. Krag kom van Bo.

pieter ·

Nou wat het ons nou hier.! Mis die hele punt. Sterkte radio overvaal en almal wat deur sy heengaan geraak is.

Des ·

Nee wat ‘n ex is ‘n ex. Wat moet hulle nou skryf oor iemand wat in die verlede is. Dis onvanpas in alle geval. Ons geniet Overvaal. Sterkte aan almal wat geraak word.

F.Smit ·

Rus in Vrede Johann. Was ‘n voorreg om jou te kon ken. Sterkte aan die Overvaal span wat agterbly en Johann se geliefdes.’n Oud kollega.

F. Smit ·

Rus in vrede Johann. Was ‘n voorreg om jou te ken. Sterkte aan almal by Overvaal Stereo en Johann se geliefdes wat agter bly. ‘n Oud kollega.

Bertie ·

Sjoe ons sal sy stem mis. So deel van die stasie se manier van doen gewees. Sterkte aan almal by Overvaal. Welgedaan met hoe julle alles hanteer wat hiermee saam kom veral op die lug. Ons luisteraars dink aan julle. Overvaal ondersteuner vir jare al.

Bertie ·

Wat ‘n leemte. Ons luisteraars sal jou mis. Jou manier van doen. Sterkte aan die res van die span julle hanteer dit baie goed. Ons bid vir julle. Sterkte.

Dee ·

Ekt jare gelede saam met Johann en Magdel op Orkney Vaal gebly. Ek en sy eerste vrou Magdel het op die Oord gewerk. Johann was altyd n groot gentleman en ek is jammer om die hartseer nuus te hoor. RIP

Hannes (Dippies) ·

Ai pella watter skok. Jy was een van daai eerbare kollegas wie se ja sy ja was. Prof soos ons jou genoem het jy was die een met die mooi stem gewees. Jou stem is nou stil maar jou “legacy” sal ons altyd by bly.

Rus in Vrede my ou groot maat ek het die voorreg gehad om saam met jou jou huis sien van grond tot dak saam het ons so baie houtwerk gepraat gedoen.

Jou grappies maar ook die erns by Overvaal sal ek nooit vergeet. Dankie vir die voorreg om jou te kon ken.

Ook sal die loop vir lewe vir kanker nooit weer dieselfde wees nie.

Groete tot weersiens Dippies

JC de Lange ·

Ja hy het sy ding goed gedoen. Ons het ook al die jare ‘n pad saam die radio gestap. Johan was deel daarvan. Tog weet niemand wat nou meer by daai plek aan gaan nie. Ons luister nie meer regtig nie. Dis nou volks vreemd. Jammer om te sê. Riv Johan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.