OVK-baas moet voorberei vir ondersoek

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula. Foto: eNCA

Pansy Tlakula, voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), se regspan het aangedui dat hulle deurnag sal moet werk om betyds die argumente aan die verkiesingshof voor te lê oor Tlakula se bevoegdheid om in haar amp te dien.

Verskeie politieke partye het ʼn aansoek voor die hof gebring dat Tlakula nie geskik is om in haar amp te dien nie, en dat sy moet bedank.

Die hof het Dinsdag bevind dat hy self ondersoek sal instel om te bepaal of Tlakula volgende week se verkiesing sal oorsien. Haar regspan moet hul argumente teen Donderdag indien sodat dit Vrydag aan die hof voorgelê kan word.

Tlakula se prokureurs het aan die hof gesê dit is onregverdig om haar in so ʼn kort tydperk te ondersoek, maar dat hulle die hof se beslissing sal respekteer.

Die partye wat die aansoek ingedien het, is die United Democratic Movement (UDM), die African Christian Democratic Party (ACDP), die Congress of the People (Cope), Agang SA en die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF). Lees meer hier.

Die partye het aangevoer dit is belangrik vir die kiesers en die opposisiepartye om vertroue in die OVK te hê en dat die kommissie deur iemand gelei moet word wat ʼn vrye en regverdige verkiesing kan verseker. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.