OVK bring dringende hofaansoek oor verkiesing

Argieffoto (Foto: Henk Kruger/ANA)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Woensdag ’n dringende aansoek by die Konstitusionele Hof ingedien om die munisipale verkiesings wat voorlopig op 27 Oktober plaasvind, te midde die Covid-19-pandemie uit te stel.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Dinsdag bevestig dat die verkiesing voorlopig op 27 Oktober voortgaan, hangende ʼn uitspraak deur die hof. Voorbereiding vir die verkiesings gaan dus voort.

Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het Woensdag gesê dié aansoek beïnvloed die regte van alle burgers en dat almal dus ’n belang by die verrigtinge het wat in die Konstitusionele Hof sal ontvou.

“Die aansoek het betrekking op die politieke regte van burgers sowel as die reg op lewe, liggaamlike en sielkundige integriteit en toegang tot gesondheid. Die aansoek sal ongetwyfeld ’n geleentheid aan die Konstitusionele Hof bied om ’n bydrae tot die ontwikkelende jurisprudensie van ons grondwetlike orde te lewer.”

Mashinini het ook bevestig dat die aansoek na die Konstitusionele Hof op alle politieke partye beteken sal word en dat alle stukke op die OVK se webtuiste beskikbaar sal wees.

Die OVK het egter ook ’n gewysigde kalender aangekondig om te verseker dat dit aan die verpligting voldoen om wel op 27 Oktober met die verkiesing te kan voortgaan.

Maroela Media het twee weke gelede berig dat voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke voorgestel het dat die verkiesing tot volgende jaar uitgestel moet word weens die Covid-19-pandemie.

Moseneke het namens die OVK  ʼn ondersoek gelei om te bepaal of die komende plaaslikeregeringsverkiesing te midde van die Covid-19-pandemie vry en regverdig in Oktober kan voortgaan.

Mashinini het gesê die kommissie het waardering vir die minister se grondwetlike plig om die verkiesingsdatum bekend te maak, terwyl daar tans geen uitspraak oor die uitstel van die munisipale verkiesing is nie.

Volgens Mashinini is die aansoek juis op ’n dringende basis ingedien omdat sekerheid oor die voorbereidings vir die munisipale verkiesing nodig is.

Die OVK voer onder meer in hulle aansoek aan dat dit onmoontlik is om hul grondwetlike plig uit te voer en die munisipale verkiesing te hou te midde die Covid-19-pandemie en die maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die virus te bekamp.

Moseneke het onder meer bevind dat indien die verkiesing wél in Oktober voortgaan, dit nie vry en regverdig sal wees nie.

Moseneke het ook benadruk dat daar nog te veel gevare rakende die aanbied van groot byeenkomste is en dat die verspreiding van Covid-19 teen Oktober steeds te hoog sal wees.

Dit word voorgestel dat die verkiesing tot nie later nie as Februarie volgende jaar uitgestel word.

Ingevolge die Grondwet moet ʼn verkiesing elke vyf jaar gehou word. ʼn Verkiesing moet ook gehou word binne 90 dae van die verstryking van munisipale rade se ampstermyn.

“Indien die hof bevind dat die OVK die verkiesing buite dié 90-dae-periode kan hou, word die hof ook in die aansoek gevra om ’n bevel uit te reik sodat die bevestigde datum van 27 Oktober teruggetrek kan word en ’n nuwe kennisgewing gepubliseer word,” sê Mashinini.

Die OVK het ook in hulle aansoek gevra dat die hof ’n bevel uitreik dat munisipale rade se bevoegdheid geldig bly tot nuwe rade verkies word, ondanks verstryking ná 90 dae.

Dít sal volgens die OVK onduidelikheid oor die regstatus van munisipale rade uit die weg ruim.

Dlamini-Zuma is glo as minister nie by magte om die verkiesing uit te stel tot 90 dae van die verstryking van munisipale rade se ampstermyn nie.

Die minister het Dinsdag gesê indien die hof die uitstel goedkeur, sal sy daaraan gehoor gee.

Die burgerregteorganisasie, AfriForum, het intussen aangedui dat die organisasie tot die regsgeding gaan toetree.

“Uiteraard gaan ons die inhoud van die aansoek oorweeg en ons stukke dienooreenkomstig aanpas. Chaos heers in munisipaliteite, en die Grondwet maak voorsiening vir gereelde verkiesings sodat burgers die samestelling van die munisipale raad kan verander,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslikeregeringsake.

“Ons glo dat die inwerkingstelling van die regte maatreëls dit moontlik maak dat die verkiesing veilig en binne die raamwerk van die Grondwet kan voortgaan.”

Mostert sê voorts AfriForum sal voortgaan om die organisasie se 155 takstrukture op voetsoolvlak voor te berei en te mobiliseer om as verkiesingswaarnemers deel te neem.

“As burgerregtewaghond maak ons ook seker dat burgers se stemreg beskerm word. Dit is vir ons ook belangrik om nie net te let op die verkiesingsreëls wat nagekom moet word nie, maar ook die toepassing van Covid-19-maatreëls om te verseker dat mense veilig kan gaan stem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

As dit eers een keer uit gestel word, sal dit tot in lengte van dae elke keer uit gestel word. As daar in ander lande, in die winter gestem kan word, kan ek nie sien hoekom ons nie in Oktober kan nie. Dit is dan in elke geval reeds baie warmer en die virus hou mos nie van hitte nie. En die wie bang is, man bly by die huis

Anoniem ·

Waaroor geld mors op ‘n Verkiesing. Die land is in elk geval klaar in sy ……………………. en kan nie herstel word met diè wat tans in beheer is nie.

Hennie J ·

VRAAG :In welke land in die wereld gee n wet aan n hof die mag om te beslis dat die grondwet oortree mag word?
ANTWOORD: In piesangland natuurlik!!

Karina ·

Geen uitstel vir verkiesing nie. Die regering besef hulle sit op ‘n warm pattat en is bang hulle gaan te veel setels verloor. Nee wat, tyd om te doen wat hulle wil moet tot op ‘n einde kom. Verder stem saam met julle almal sover

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.