OVK gaan appelleer oor Zuma

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Skermskoot)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het appèl by die Konstitusionele Hof aangeteken nadat die kieshof vroeër vandeesweek beslis het dat oudpres. Jacob Zuma tóg verkiesbaar gestel kan word vir vanjaar se nasionale verkiesing.

Die OVK het die hoogste hof op ’n “dringende en direkte” grondslag genader.

Die kommissie glo dit is in die openbare belang dat daar sekerheid gegee word oor die behoorlike vertolking van art. 47(1)(e) van die Grondwet wat bepaal dat enigiemand wat skuldig bevind word aan ʼn misdryf en tot meer as 12 maande gevangenisstraf gevonnis word sonder die opsie van ʼn boete, nie ’n lid van die Nasionale Vergadering mag word nie.

Die OVK sê die sekerheid is nie net vir dié saak nodig nie, maar ook vir toekomstige verkiesings.

“Dit is verder belangrik dat sodanige regsduidelikheid verkry word van die hoogste hof in die land wat jurisdiksie oor grondwetlike sake het. Daarom ʼn direkte appèl na die Konstitusionele Hof,” sê die kommissie.

Die kieshof het Dinsdag beslis dat Zuma, wat nou lid is van die uMkhonto we Sizwe- (MK-)party, verkiesbaar gestel kan word nadat die OVK verlede week beslis het dat Zuma nie as ʼn kandidaat aan vanjaar se verkiesings mag deelneem nie omdat hy ʼn bepaalde misdaadrekord het.

Die hof het die MK-party se appèlaansoek teen die OVK se beslissing aangehoor en eindelik in die MK-party se guns beslis.

Daar word intussen op die vyf regters, onder leiding van regter Dumisani Zondi, se redes vir die uitspraak gewag.

Die OVK het Vrydag gesê hy wil met die appèl geensins by die politieke speelveld betrek word nie. “Dit is eerder om vrye en regverdige verkiesings te verseker deur te verseker dat toepaslike grondwetlike bepalings met betrekking tot verkiesings duidelik deur alle rolspelers verstaan word en eweredig toegepas word.”

Zuma is in 2021 op ʼn klag van minagting van die hof skuldig bevind en tot 15 maande gevangenisstraf gevonnis. Die voormalige president se regspan, onder leiding van adv. Dali Mpofu SC, het egter volgehou dat Zuma se vonnis hom nie diskwalifiseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

willie ·

Die rampokker was mos te siek om tronk toe te gaan, so hoe kan hy nou skielik lewe he om verkiesbaar te staan?

koos10 ·

Hier kom ‘n ding. Zuma, van alle mense behoort te weet dat solank daar appèl aangeteken word, is die vorige uitspraak nog nie bekragtig nie, wat, in my opinie beteken dat hy nie verkiesbaar is nie. Gaan die aansoek voor 29 Mei afgehandel wees???

Piet Snot ·

Maroela, kan julle vir ons berig wat is die MK Party se argument?
Dit sou baie interessant wees om te hoor hoe iemand rondom die duidelike bepalings vd Grondwet probeer kom.

Johann ·

Kameraad en kader beskerm kameraad en kader. WETEND dat die magsmal ou man KZN weer sal afbrand en verwoes as hy nie sy sin kry nie. Soveel vir ons veronderstelde regs stelsel.

Cherokee ·

Wat is die verskil of hy verkiesbaar gaan wees of nie? Ek sou daarvan hou dat hy verkiesbaar is, want dit sal die ANC ‘n groot persentasie stemme kos tydens die verkiesing, maar dan weer, duik die moontlikheid van koalisering op, en daarom sê ek dat daar geen verskil is of hy verkiesbaar is of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.