OVK gaan hof nader om verkiesing uit te stel

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Die plaaslike regeringsverkiesing wat op 27 Oktober sou plaasvind, is heel waarskynlik van die baan.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het Vrydagmiddag gesê die kommissie gaan hom tot die toepaslike hof wend vir ʼn aansoek dat die verkiesing buite die grondwetlik voorgeskrewe bepalings gehou word.

“Die moontlikhede is óf die kieshof óf die Konstitusionele Hof,” sê Glen Mashinini, voorsitter van die OVK.

Ingevolge die Grondwet moet ʼn verkiesing elke vyf jaar gehou word. ʼn Verkiesing moet ook gehou word binne 90 dae van die verstryking van munisipale rade se termyn.

Mashinini sê ʼn senior advokaat sal die OVK nou raad gee oor watter hof om te nader.

Die kommissie se aankondiging volg nadat voormalige adjunkhoofregter Dikgang Moseneke Dinsdag sy verslag bekend gemaak het waarin aanbeveel word dat die verkiesing te midde van die voortslepende Covid-19-pandemie uitgestel word.

Moseneke het in sy verslag bevind ʼn vry en regverdige verkiesing kan nie onder die huidige omstandighede gehou word nie. Hy het ook aanbeveel dat die verkiesing egter nie na later as Februarie 2022 uitgestel word nie.

Die OVK het die Moseneke-verslag die afgelope paar dae bestudeer en vandag gesê sy raad het die aanbevelings daarin eenparig aanvaar.

Volgens Mashinini is dit moeilik om te sê wat die nuwe tydsraamwerk sal wees en dat daar eers omvattend oor die saak beraadslaag sal word. Daar sal onder andere met die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, die nasionale tesourie asook politieke partye vergader word.

Tot ʼn hof egter ʼn uitspraak oor die beoogde aansoek lewer, gaan alle kiesprosesse voort.

Die kiesersregistrasienaweek wat vir 31 Julie en 1 Augustus beplan is, word wel uitgestel.

Mashinini sê op grond van die Moseneke-verslag sou dit nie vir die OVK moontlik gewees het om ʼn veilige registrasienaweek te hou nie. ʼn Nuwe datum daarvoor sal mettertyd bekend gemaak word. Aanlyn registrasies gaan egter soos gewoonlik voort.

Verskeie politieke partye het vroeër reeds hul teenkanting teen enige uitstel van die verkiesing te kenne gegee en gesê hulle glo dit kan steeds veilig te midde van die pandemie gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elinette ·

Ha-ha-ha!!!! Het enige iemand gedink die OVK sal NIE Moseneke se aanbeveling dat die verkiesing uitgestel moet word, aanvaar NIE???? Die ANC se stemmers moet eers kans gegee word om te vergeet van die oproer van Julie 2021 en daar moet kans gegee word om genoeg komberse, kos-“hampers”, T-shirts en Chicken Licken quarters uitgedeel te word, sodat “our people” kan SIEN die ANC gee sóveel vir hulle om …

Jaco ·

Nie later as Februarie 2022 nie. Wat dan nou van die vierde golf Corona wat vir 1 Desember beplan word? As daardie inperking 2 maande aanhou soos Des 2020 – einde Jan 2021, los dit maar MIN tyd vir politieke partye om “vry en regverdig” te “campaign”.

Nie Verbaas ·

ANC, en wie gaan julle in elk geval verkiesbaar stel aangesien julle almal onbevoeg en hopeloos is? Of is julle dalk bang julle gaan nie so goed vaar nie en wil eers stemme wen met net nog lee beloftes?

Malan ·

Wat van wat die grondwet sê, of steur ons ons nie meer daaraan nie? En wat gaan verander van Oktober tot Januarie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.