OVK gereed vir elektroniese stemproses;  partye skop vas

stem

Grafika: PaliGraficas/Pixabay.com

Die OnafhanklikeVerkiesingskommissie van Suid-Afrika (OVK) het laat hoor hulle is gereed om met elektroniese stemmery te begin, maar dat Suid-Afrika se politieke partye daarteen gekant is en papierstemme verkies.

Nomsa Masuku, die adjunkhoof van die OVK, het tydens ʼn paneelgesprek oor verkiesings in die tyd van foutiewe inligting en fopnuus gepraat en gesê daar is nie ʼn politieke wil in Suid-Afrika om die digitale era te omhels wanneer dit by stemmery kom nie.

“Ons oorweeg reeds elektroniese stemmery – die probleem is in watter stadium ons dit gaan ontplooi. Daar is tans geen politieke wil om die elektroniese roete te volg as dit by stemmery kom nie,” het Masuku gesê.

“As daar nou een ding is waaroor politieke partye saamstem, is dat hulle nie wil hê ons moet van die papierstem na elektroniese stem oorgaan nie. Totdat jy ʼn ooreenkoms het en ʼn sekere vlak van politieke wil om elektroniese stemmery bekend te stel, sal die ontplooiing baie langer neem.”

Dié paneel het volgende jaar se verkiesings in ʼn tyd van misleidende inligting aanlyn, internet-trolle en die misbruik van sosiale media bespreek. Die geleentheid is deur Media Monitoring Africa gereël.

Volgens Masuku sal elektroniese stemme wegdoen met die kwessie van die veilige bewaring van papierstembokse en spoedige resultate verseker.

Masuku meen in Brasilië is byvoorbeeld vanjaar elektronies gestem en die stemmer het dan ʼn bewysstrokie ontvang as bewys – met ander woorde daar was wel ʼn papierspoor.

Suid-Afrika sal in 2019 voor Mei weer stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Die Skim ·

Solank die selfde mense van e-filing dit net nie implementeer nie. Kry iemand in die privaat sektor om dit te bou en onderhou. Iemand wat geen koneksie met enige politikieke party of suidafrika nie. Dan sal dit kan werk.

RG ·

Stem saam. Glo ook baie meer mense sal dan stem. Baie word afgesit deur vir ure in rye te moet gaan staan.

Jordaan ·

Met elektroniese stemme is dit seker bietjie moeiliker om ekstra briefies en houers met stemme in die proses in te sit, dit is waarom hulle dit nie wil steun nie.

alida ·

In SA kan dit nie werk nie. Daar is te veel korrupsie en skelms hier. DIT KAN NIE WERK NIE. Ons is bereid om in die son in ‘n ry te staan maar hierdie nuwe ding vertrou ek nie.
As dit ‘n onafhanklike paneel mense is wat dit beheer en GEEN bande met enige party het nie kan dit dalk werk maar die ANC sal dit nie toelaat nie. Hulle wil in beheer wees en kyk wat het met die land gebeur met hulle in beheer. O nee gladnie.

jaco ·

Solidariteit, wat 99% dieselfde dink as die VF-Plus, het 500 000 lede. Die VF-Plus se steun staan egter op 170 000 stemme. Iewers stem 330 000 mense dus nie. Ek twyfel baie sterk dat hulle DA stem. So dalk sal daardie apatiese 330 000 mense darem elektronies vir die VF-Plus stem.

Tegnologie ·

Baie mense in SA is ongeletterd. Hoe gaan hulle die nuwe tegnologie kan baasraak (sou dit geïmplementeer word)?

leser ·

met die regte “it” spesialiste wat geen omkoopgeld sal aanvaar nie, sal so ‘n elektroniese stemmery werk
dink net, biometries kan nie ge-jippo word nie en dit kan aan polisie rekords gekoppel word, so skelm, hier sit jou turf

ZAR ·

Dit klink fantasties. Dit beteken een id nommer kan net een keer stem. Die IT mense moet verseker internasionale mense wees om seker te maak dat geen kroekery kan plaasvind nie. Dit sal briljant wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.