OVK gereed vir rekord-verkiesing

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

Die nasionale uitslagbedryfsentrum van die OVK het Woensdag in Pretoria sy deure oopgemaak vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie om ʼn vry en regverdige verkiesing te verseker.

“Kiesers sal oor vyf dae, op 3 Augustus, begin stem in die grootste en een van die belangrikste verkiesings in ons geskiedenis,” het hoof verkiesingsbeampte, Mosotho Moepya, by die geleentheid gesê. “Dit is ʼn verkiesing wat ʼn nuwe maatstaf sal stel vir demokrasie in ons land en vir die OVK.”

Moepya het gesê die verkiesing sal talle rekords verbeter. “Ons het ʼn rekordgetal kiesers vir dié verkiesing geregistreer, altesaam 26,3 miljoen. Ons het ʼn rekordgetal spesiale stemaansoeke, meer as 740 000, ontvang. Dit is drie keer meer as dié in 2011. Ons het ook ʼn rekordgetal stemlokale van 22 612. Ons het ʼn rekordgetal partye wat aan die verkiesing deelneem, altesaam 204. Dit is 68% meer as 2011.”

Die OVK het ook ʼn ongekende aantal kandidate, naamlik 63 654 kandidate, wat om kiesers se stemme sal meeding in munisipaliteite oor Suid-Afrika. Dit is ʼn toename van 18%.

“Ons het ook ʼn rekordgetal onafhanklike kandidate in hierdie verkiesing, altesaam 855, in vergelyking met die 754 in 2011,” het hy bygevoeg.

Hy het gesê die OVK het voor sy grootste logistieke uitdaging nog te staan gekom. “Ek is bly om te kan aankondig dat ons gereed is. Ons is absoluut gereed. Ons beplan en berei nou al meer as twee jaar vir dié verkiesing voor.”

Alle stemlokale is reeds vasgemaak. “Van die lokale is 64% skole, 13% gemeenskapsentrums, 8% is plekke van aanbidding, en ongeveer 5% is tydelike strukture. Ons het ook 31 mobiele stemstasies, die meerderheid in KwaZulu-Natal en Mpumalanga,” het Moepya bygevoeg.

Hy het gesê meer as 177 000 personeellede is aangestel en opgelei. “Meer as 70% is vroue en 40 000 is persone onder 25 jaar. Meer as 138 000 personeellede was werkloos.”

Verteenwoordigers van verskeie politieke partye en staatsamptenare het die geleentheid bygewoon.

Vuma Glen Mashinini, voorsitter van die OVK, het gesê die integriteit van die verkiesing is bo verdenking. “Een van die sleutelfaktore om vry en regverdige verkiesings te verseker, is om seker te maak dat elke aspek in die waardeketting van die stemstelsel is – die stemmery, tellery en uitslagproses moet deursigtig wees,” het Mashinini gesê. “Dit is nog meer noodsaaklik dat elke partykandidaat, kieser, waarnemer en kommentator moet begryp dat elke aspek van die stem- en uitslagproses onderwerp word aan streng wigte en teenwigte en oorsig om die integriteit van ons prosesse te waarborg.”

Hy het bygevoeg die kommissie het seker gemaak dié meganismes is in plek. “Die politieke partye is bewus van al die maatreëls, aangesien hulle elke maand, danksy die party-skakelstelsel, betrek word – selfs meer as ons kommissarisse.”

Mashinini het die verskeie voorvalle van geweld en intimidasie, wat met die verkiesing verband hou, veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tiaan ·

Kan nie sien hoe die OVK die verkiesing as vry en regverdig gaan kan verklaar met sensuur by die nasionale uitsaaier nie. Klug.

Rupert Ashford ·

Mmm…en die uitslag is ook seker al in die sakkie…:-)

nic ·

En hoeveel van die 26 miljoen kiesers se adresse is geverivieer? Vry en regverdig?

John ·

Rekord knoeiery en probleme, ja. Groot salarisse en motors vir niksdoeners… groot baklei… en weer ‘n klomp beloftes… en wie daarop wag is weer eens gekul.

Maria van Dieweeck ·

Ek kry pyn oppi maag as ek hoor van ‘wigte en teenwigte’.

hans brits ·

Die ovk bestaan uit anc lede nou hoe kan dit regverdig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.