OVK het 7 dae om uitslag te verklaar

Argieffoto

Argieffoto

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Donderdagoggend tydens ʼn mediakonferensie gesê slegs ʼn handjievol kiesstasies se stemme moet nog getel word.

Mosotho Moepya, hoof verkiesingsbeampte, het gesê beamptes het deurnag stembriewe by stemstasies sorteer en getel om resultatestrokies saam te stel. “Teen 11:00 is 77,8% van die resultate op die stelsel geregistreer. Ons doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om geduldig te wees ten einde te verseker dat die vaslegging en onafhanklike ouditproses met omsigtigheid en akkuraatheid kan voortgaan.”

Moepya het gesê ingevolge artikel 5 (1)(n) van die Wet op die Verkiesingskommissie moet die OVK binne sewe dae na die verkiesing die uitslag verklaar. “Ons wil graag die miljoene kiesers bedank wat die koue en wind getrotseer het om hul merk te maak en hul sê te sê. Ons is baie dankbaar teenoor die 200 000 verkiesingsbeamptes wat van vroeg gisteroggend tot vroeg vanoggend gewerk het.”

Volgens Moepya was 99% van die stemme in die Noord-Kaap teen 11:00 getel met slegs resultate vir ʼn paar wyke in die Sol Plaatjie-munisipaliteit wat nog uitstaande was. “Teen 11:00 was 84% van die stemme in die Wes-Kaap reeds getel, amper 80% in die Oos-Kaap en 74% in die Vrystaat. In Mpumalanga was 60% van die stemme teen 11:00 getel.”

Moepya het gesê in KwaZulu-Natal en Noordwes was 55% van stemme reeds getel. “In Gauteng en Limpopo was sowat 47% van die stemme teen 11:00 getel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.