OVK kry meer tyd om kiesersadresse op te dateer

Argieffoto: Phillip Bruwer

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het uitstel gekry tot 30 November volgende jaar om alle kiesers se adresse op die kieserslys aan te bring.

Dit volg op ʼn eenparige beslissing deur die konstitusionele hof. Die uitspraak is geskryf deur regter Edwin Cameron en stel streng spertye aan die OVK oor die opdatering van adresse – die OVK moet elke twee maande verslag lewer oor sy vordering.

Die totale hoeveelheid uitstaande adresse is 1 299 263, wat 4,9% van die totaal verteenwoordig. Dit beteken 95,1% van kiesers se volledige adres is wel op die stelsel.

Die meeste kiesers sonder adresse is in Gauteng (369 451), gevolg deur KwaZulu-Natal (213 025) en die Oos-Kaap (164 622).

Persentasiegewys is die minste kiesers korrek met volledige adresse geregistreer in die Vrystaat (92%), Mpumalanga (94%) en Gauteng (94,1%).

Die hoogste syfers vir kiesers wat korrek met volledige adresse geregistreer is, is in die Wes-Kaap (97,1%), KwaZulu-Natal (96,1%) en Noordwes (95,7%), het die OVK bevind.

Die OVK het die hof se beslissing verwelkom en gesê dit verskaf duidelikheid oor die status van die kieslys en veral dié kiesers sonder adresse voor volgende jaar se nasionale en provinsiale verkiesing.

Volgens die OVK sal die uitspraak hom help om te verseker dat die verkiesing vry en regverdig is. Die OVK het gesê hy hoop die uitspraak sal alles kiesers aanmoedig om na vore te kom en hul adresbesonderhede te verskaf en by te werk tydens die laaste registrasienaweek in Januarie.

Kiesers kan ook op die OVK se webtuiste hul adresse invul voor die laaste registrasienaweek. Pres. Cyril Ramaphosa moet nog die presiese verkiesingsdatum aankondig.

Die OVK het verlede maand in die parlement positiewe aanduidings gegee oor sy gereedheid vir aanstaande jaar se algemene verkiesing.

Nadat grootskeepse ongerymdhede met die kieserslyste in munisipaliteite soos Abaqulusi in Vryheid (KwaZulu-Natal) en JB Marks (Potchefstroom in Noordwes) aan die lig gekom het, het die konstitusionele hof die OVK beveel om volledige adresse vir die land se meer as 26 miljoen kiesers te verskaf.

Dit het geblyk ʼn onoorkomelike struikelblok vir die kommissie te wees waarna hulle die hof om uitstel gevra het.

Die verwagting is dat stemdag iewers tussen Mei en Augustus volgende jaar sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henk ·

Mpumalanga, gauteng en vrystaat- die mees korrupte provinsies. Wat skrukwekkend is, is die feit dat eers sassa en nou die ovk hulle gatte aan die konstitusionele hof af vee en dan gee die hof hulle uitstel. Dit wys net dat die hof geen gesag het nie

Andrew ·

Ek verstaan nie die probleem nie. Op die internet gee jy ‘n adres, kies op ‘n kaart of dit reg is, en siedaar. Jou nuwe adres is aanvaar.
Ek dink dis meer ‘n geval van stemme vir die verkiesing te verseker.

Paul ·

Die hoeveelste uitstel is dit dié? As ek reg het was daar voorheen ook uitstel gegee. Hierdie een sommer tot maande na die verkiesing verby is. En kom ek wed julle vir die verkiesing in 2024 gaan daar weer uitstel gegee word. Wie bluf wie?

En dan beduie Moegoeng vandag regters moenie populisties wees nie.

Liana ·

Daar is n goeie plan, elke persoon wie wil stem moet op stemdag hul adres saamneem dan word dit ingescan of foto van geneem of maak n kopie daarvan. Siedaar voer dit in en dan het jy almal se adresse. Maak n plan en dit sal verseker niemand se ” humanrights” aantas nie.

Vissie ·

Wat van n stemlisensie, jy kan een kry as jy aansoek doen en bewys kan lewer dat jy darem ‘n sekere intelligensievlak het, sodat jy nie gaan stem vir die party vol korrupte “conmen” wat jou allerhande gratis goeters belowe wat hulle elk geval nooit sal kan gee nie.

Tweedens moet jy ‘n belastingbetaler wees dan sal jy eerder stem vir die party wat jou hardverdiende belastinggeld gaan aanwend om die dienste te lewer waarvoor dit betaal is. Die ANC sal uit daardie kiesers geen steun kry nie…

IK ·

Stem saam Vissie MAAR IK-toetse word nie meer gedoen want ons is mos almal nou ‘gelyk’.

John ·

Hoekom het Sassa nie so ‘n probleem nie of het hulle nog nie agtergekom hulle het ‘n probleem nie. Diegene sonder adres, wil nie ‘n adres gee nie, om baaaaie persoonlike redes. En nou kom nog ‘n verkiesing en weer word die mense oorgesien tot 7 mnde later. Oor ‘n paar jaar ditto. Ons speel huis-huis onder die kombuistafel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.