OVK maak datum bekend vir tussenverkiesings

Argieffoto

Argieffoto

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie het Dinsdag die datum bekend gemaak vir tussenverkiesings wat in verskeie provinsies sal plaasvind ná die plaaslikeregeringsverkiesing.

Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, het in ʼn verklaring gesê dié munisipale tussenverkiesings sal Woensdag, 9 November 2016, in ses provinsies plaasvind.

Die provinsies sluit die Oos-Kaap, Wes-Kaap, Noord-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga in.

Altesaam 15 wyke wat 80 stemdistrikte behels, word hierdeur geraak. Daar is 93 145 geregistreerde kiesers wat aan dié stemmery mag deelneem.

Volgens Bapela sal die tussenverkiesing gehou word in Wyk 5 (Walmer township) in Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap, waar ʼn raadslid dood is, asook Wyk 14 ná ʼn raadslid bedank het.

Nog tussenverkiesings in die Oos-Kaap vind in Mbashe-munisipaliteit, Nkonkobe-munisipaliteit en ʼn wyk in Port St Johns en in Mbizana plaas.

In KwaZulu-Natal word tussenverkiesings gehou in Umuziwabantu, Ladysmith en Newcastle as gevolg van drie raadslede wat gesterf het.

In Mpumalanga word tussenverkiesings gehou in Chief Albert Luthuli en Victor Khanye as gevolg van ʼn raadslid se bedanking en ʼn raadslid wat gesterf het.

Kgatelopele in die Noord-Kaap moet ook tussenverkiesings hou nadat ʼn raadslid gesterf het.

Alle stempunte in die betrokke wyke sal komende naweek oop wees sodat kiesers hul registrasie- en adresbesonderhede kan nagaan en kan opdateer.

Meer inligting oor die betrokke wyke en stemproses is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.