OVK moet EFF, ANC se partyfinansiering bekyk  

Slegs ses partye het skenkings van meer as R100 000 by die Onafhanklike Verkiesingskommissie verklaar. (Foto: Reint Dykema)

Slegs ses politieke partye het skenkings van meer as R100 000 tydens die tweede kwartaal (Julie tot September 2021) by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verklaar. Dié partye is die DA, Action SA, die ANC, GOOD, ACDP en AIM.

Die OVK se lys met partyname en verklaarde bedrae is Donderdag op die regering se webwerf gepubliseer. Die algehele skenkings beloop sowat R57 miljoen.

Die DA, Action SA, AIM en Good het ook skenkings in die vorm van goedere en dienste verklaar, en volgens die OVK se verslag is daar ook buitelandse skenkings aan die DA (R347 007) en Action SA (R120 000) gemaak.

Maroela Media het vroeër berig dat partye ingevolge die Wet op Politieke Partyfinansiering alle skenkings bo R100 000 moet verklaar terwyl geen enkele skenking van meer as R15 miljoen per jaar aan ʼn party toegelaat word nie.

Die DA doen nou ʼn beroep op die kommissie om dringend ondersoek na die EFF sowel as die ANC se beweerde oortreding van dié wet in te stel.

Dít volg nadat die EFF, ondanks ’n reuseverkiesingsveldtog, geen skenkings bo dié drempel verklaar het nie, terwyl die ANC R15 miljoen se skenkings van Chancellor House, die ANC se beleggingsmaatskappy, verklaar het.

Deur skenkings van ʼn trust te onvang en verklaar, sê die DA, verberg die ANC die bronne van sy skenkings.

Die party meen boonop die OVK se verslag is nie deursigtig nie, aangesien dit nie aandui watter partye versuim het om verslae in te dien nie.

“Die verslag bereik nie sy verklaarde doelwit om deursigtigheid in die finansiering van politieke partye te verseker nie,” sê dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies.

George meen die ANC se geldinsamelingsentiteit [Chancellor House] is “gestruktureer om die wet te oortree”.

“Toe die wet ingestel is, het die DA advies ingewin of só ’n reëling vir die OVK aanvaarbaar sou wees, waarop hulle geantwoord het dat dít die wet sou oortree. Nou weerspreek die OVK hierdie standpunt. “Gegewe die OVK se treurige prestasie in die onlangse verkiesing moet daar gevra word of die OVK onafhanklik optree en die mense dien of die ANC.” Die DA sê voorts die EFF se versuim om enige verklaring te maak is ʼn duidelike oortreding van die wet.

“Hulle het voorheen verklaar dat hulle die party met statutêre inkomste finansier. As dit waar is, tree hulle onwettig op aangesien statutêre inkomste nie aan meeste van die politieke aktiwiteitsbesteding bestee kan word nie, soos die finansiering van verkiesingsuitgawes en skenkings van motorvoertuie.

“Daar móét ’n finansieringsbron wees wat openbaar gemaak moet word. Gegewe die EFF se ooglopende besteding is dit onmoontlik dat hulle nie skenkings ontvang het wat verklaar moes word nie.” Die DA sê hy sal oorweeg om die verklaring van enige toekomstige skenkings in die toekoms te weerhou indien die OVK nie vinnig sy sokkies optrek om te verseker dat die wet gehoorsaam word nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SlinkseKoljander ·

OVK is dan deel van die ANC, wat gaan hulle vir ons se?

Hardekwas ·

Dit kom van onwettige bedrywighede, veral sigaret smokkelary.

My siening ·

Malema deel karre uit vir stemme, SARS het die skelm koning belasting betaal op geskenk, OVK ANC se hand perd, “vra my broer jack hy lieg nes ek!”

Swerwer ·

Lagwekkend. Hul sal dit toesmeer. Wen sal nie gewen word nie.
Die lewe ingekom met oneerlikheid,korrupsie en moord

DIABLO ·

Asseblief ondersoek dit en basuin dit wyd en suid. Hulle loop heeldag bakhand, want hulle beweer hulle het nie geld nie en tog word daar verkiesing gehou. Ek moet steeds in hulle gesigte vaskyk op borde wat al afgehaal moes word! Ek hoop Herman Mashaba maak hulle gelyk met die grond

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.