OVK oor Covid-19 en die 2021-verkiesing

(Argieffoto: Brendan Magaar/ANA)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake ingelig oor hul vrese en siening van geleenthede vir die aanbied van aanstaande jaar se munisipale verkiesing as die Covid-19-pandemie voortduur.

Daar is ook ʼn belangrike verandering in die Kieswet onderweg, met kiesers wat van aanstaande jaar af slegs sal kan stem by die stemlokaal waar hulle geregistreer is. Daar was in verlede jaar se algemene verkiesing verskeie gevalle waar mense meer as een keer gestem het deur by verskillende stemlokale deur die loop van stemdag op te daag.

Volgens die OVK het die pandemie omvattende uitdagings vir die hou van verkiesings geskep – geen tussenverkiesings het trouens sedert die begin van die staat van inperking plaasgevind nie, en die aantal wyke sonder stadsraadslede is aan die toeneem.

Verskeie uitdagings is deur die OVK genoem. Hieronder tel die tydrowendheid daarvan om telkens nadat ʼn kieser deur die stemproses gegaan het, alles te steriliseer, die handhawing van sosiale afstand in die kiesersry en in die stemlokaal, asook die feit dat geen byeenkoms van meer as 50 mense toegelaat word nie.

ʼn Ander kwessie wat wye bespreking tydens die vergadering ontlok het, is die voorstel om voortaan die nasionale, provinsiale en munisipale verkiesings op een dag te hou.

So ʼn voorstel word tans veral deur die ANC en die EFF voorgestaan, met die DA as belangrikste teenstander. Die argument ten gunste daarvan is dat dit geld sal spaar. Die argumente daarteen is dat dit buite die administratiewe vermoë van die OVK val, dat munisipale kwessies in sulke verkiesings verwaarloos sal word en dat dit die gevaar sal verhoog dat ʼn verkiesing nie vry en regverdig sal wees nie, met gepaardgaande konflik- en geweldsmoontlikhede.

Die OVK het gesê so ʼn besluit sal by die parlement berus, en dat dit voortydig sal wees vir die OVK om hom daaroor uit te spreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Gee nie om of my stemlokaal op die maan is nie, solnak die ANC uitgestem word! Hou die ANC/EFF/OVK dop vir verneukery

Leon ·

Die verkiesings is sedert 1995 in elke gval nie regverdig en vry nie. Die ANC sal dit verwelkom as daar nie volgende jaar ‘n verkiesing is nie, want dit gee hulle nog ‘n tydperk om te aas.

Plaaskind ·

Hulle laat my dink aan klomp heynas om ‘n dooie karkas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.