OVK oorweeg verslag oor uitstel van verkiesing

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bestudeer afgetrede adjunkregter Dikgang Moseneke se verslag – waarin aanbeveel word dat die plaaslike regeringsverkiesing uitgestel word – en sal dan ʼn finale besluit neem.

Maroela Media het vroeër berig Moseneke se verslag beveel aan dat die verkiesing, wat veronderstel is om op 27 Oktober gehou te word, te midde van die Covid-19-pandemie na volgende jaar uitgestel word.

Die OVK sê hy is deeglik bewus van die beperkte tyd waarin ʼn besluit geneem moet word. ʼn Kiesersregistrasienaweek is vir 31 Julie en 1 Augustus geskeduleer en die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, sal dan na verwagting op 2 Augustus die verkiesing afkondig.

Die kommissie sê hy sal dus binne die volgende paar dae ʼn besluit neem.

“Wat duidelik is, is dat die Moseneke-ondersoek beduidend bygedra het tot die nasionale gesprek oor wat ʼn vrye en regverdige verkiesing is. Die konstitusionele kwessie ter sprake, waaronder die balansering van die wetlike en maatskaplike aspekte van ons demokrasie, het duidelik na vore gekom,” lui ʼn verklaring van die OVK.

Wat ook duidelik was, is die uiteenlopende gevoel van betrokkenes.

Die DA, Suid-Afrika se amptelike opposisieparty, het reeds gesê hy steun nie die uitstel van die verkiesing nie.

“Ons het uit die staanspoor gesê dit is moontlik om ʼn verkiesing binne die raamwerk van Covid-19-voorskrifte te hou,” sê Siviwe Gwarube, die DA se nasionale woordvoerder.

Gwarube sê ingevolge die Grondwet moet die plaaslike regeringsverkiesing elke vyf jaar plaasvind. Dit is glad nie nodig om massabyeenkomste en optogte te hou om ʼn vrye en regverdige verkiesing te hou nie.

Sy sê ook kommer dat ʼn verkiesing tot ʼn toename in Covid-19-infeksies kan lei, word betwis, veral omdat verskeie tussenverkiesings gehou is sedert die ramptoestand afgekondig is.

“Die meeste wetenskaplike modelle voorspel in dié stadium dat daar ʼn goeie kans is dat die infeksiekoers voor en op 27 Oktober stabiel en selfs laag gaan wees.”

Michael Beaumont, nasionale woordvoerder van ActionSA, sê pleks daarvan om leiding te neem, het die OVK eerder toegelaat dat hy deur die belange van politieke partye gelei word en het gevolglik nie as grondwetlike gesag die nodige leiding oor verkiesings gegee nie.

“Ons land ly weens ʼn aanspreeklikheidskrisis. Suid-Afrikaners is in die steek gelaat deur ons politieke stelsels en talle Suid-Afrikaners het weinig oor as net hul stem elke vyf jaar waarmee hulle diegene wat hulle verteenwoordig, aanspreeklik kan hou,” sê Beaumont.

“ʼn Besluit om die plaaslike verkiesing uit te stel vind plaas binne die konteks van die wanbestuur van die pandemie, die onthullings by die kommissie na staatskaping en die voortgesette ineenstorting van dienslewering.”

ActionSA sê indien die verkiesing uitgestel word, sal dit die wanbestuur van politieke partye en munisipale rade net verder verleng.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

DIABLO ·

Uitstel van die verkiesing beteken suiwer dat die ANC meer tyd het om kiesers te belieg en bedrieg en KFC en T-hempies uit te deel.

Baardman ·

ANC wil so lank moontlik vasklou aan die beheer wat hulle het. En as dlamini zuma (kleinletters agv gebrek aan respek), die finale sê het, kan ons maar net raai wat gaan gebeur.

Kobus ·

Hoe kan dit ooitregverdig wees indie n die ANC met ‘n voorsprong van ongeveer 16 miljoen stemme wegspring? Dit is mos die aantal mense wat gedreig word dat die “social grants” gestaak sal word indien hulle nie vir die ANC sal stem nie,aldus van my swart kollegas se redenasie.

Elinette ·

100% reg – dis wat daar vir “our people” gesê word – as hulle nie ANC stem nie, word hulle SASSA-“pay” weggevat en kom Apartheid weer terug. En hulle is regtig dom genoeg om dit te glo.

Elinette ·

Die moontlike uitstel van die verkiesings is net nóg ‘n ANC-taktiek tot wol-oor-die-oë-trekkery waarvoor hulle so berug is. Hulle sal natúúrlik die verkiesings uitgestel wil hê met 5 maande, sodat die plat koppe wat vir hulle stem, wéér vir hulle sal stem, want hulle wil hê dat “our people” moet vergeet wat 10 – 16/07/2021 gebeur het, toe die ‘mense’ opgestaan het (weliswaar met opsweping van elemente binne-in die ANC) en die land byna-byna lamgelê is.

Nette ·

Het die einste ANC nie daarteen geskop toe die ander partye gevra het vir uitstel nie?

Pampoen ·

So ‘n verkiesing kan ‘n superverspreider van die virus wees. Tussen nou en Februarie KAN daar BAIE mense ingeent word, wat meer beskerming aan kiesers bied.

Fritz ·

Jy kan my inenting en stem kry. Ek het geen nut vir enige een nie.

Saartjievandiebosveld ·

Ons kan in Rye staan vir inentings…so ons kan in Rye staan om te stem .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.