OVK oorweeg versoek om verkiesing uit te stel

Die verkiesingsuitslae word in Pretoria aangekondig. (Foto: Twitter via @SAgovnews)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) oorweeg tans ʼn amptelike versoek van die EFF om vanjaar se munisipale verkiesing tot 2024 uit te stel.

Die land se hoofkiesbeampte, Sy Mamabolo, het dié aankondiging Vrydag in Pretoria gedoen.

Die EFF voer aan dit sal goedkoper en veiliger wees indien die nasionale, provinsiale en munisipale verkiesings op een slag plaasvind. Verskeie logistieke uitdagings en bepalings van die Grondwet maak dit egter onwaarskynlik dat dié versoek toegestaan sal word.

Politieke kenners het gewaarsku dat nie te veel gelees moet word daarin dat die OVK – wat ʼn openbare organisasie is en met belastingbetalersgeld gefinansier word – die versoek oorweeg nie. As die OVK bloot sou weier om enige versoek deur ʼn verteenwoordigende party te oorweeg, sou ʼn hof heel waarskynlik geen ander keuse hê as om te bevind dat die OVK sy mandaat oorskry nie.

Die EFF grond sy versoek om die verkiesing uit te stel op twee aspekte, naamlik koste en gesondheidsoorwegings.

Wat koste betref, voer die EFF aan dit sal baie goedkoper wees om die nasionale, provinsiale en munisipale verkiesings op dieselfde dag te hou. Die gesondheidsoorweging is dat sosiale afstand tydens die Covid-19-pandemie nie by stempunte gewaarborg kan word nie.

Tot dusver is die EFF die enigste van die vier grootste partye wat amptelik so voel. Die ANC sit op die draad daaroor, terwyl die DA en die IVP uitgesproke gekant is daarteen.

Inwoners in Polokwane wag in ‘n ry om hul stemme uit te bring. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die besware teen die samevoeging van al drie verkiesings in een sogenaamde kompendium-verkiesing is vierledig.

Eerstens is daar kommer (ook by die OVK, na wat Maroela Media verneem) oor die OVK se vermoë om al drie verkiesings logisties op dieselfde dag te hanteer, gegewe dat elkeen van die land se ongeveer 4 500 wyke verskillende stembriewe moet kry. Daardie stembriewe moet op stemdag voor sewe-uur die oggend foutloos by 22 612 stempunte afgelewer word, waarvan sommiges net per kano bereik kan word. Dit is ʼn logistieke nagmerrie.

Tweedens word erge vertragings in stemrye voorsien. Dit word sterk betwyfel of al die kiesers betyds klaar sal stem as hulle vier (of vyf, buite die metro’s) stembriewe moet invul.

Derdens sal dit ʼn haas onbegonne taak wees om die meer as honderd miljoen stembriewe te tel. Soos sake tans staan, moet die tellery reeds ná ʼn stemdag van 14 uur begin. Die tellery neem op die meeste plekke in die huidige omstandighede sowat 12 uur of selfs meer. Dan is die tellers absoluut gedaan. Om nou hul taak meer as te verdubbel sal eers goed deurdink moet word.

Die vierde rede is die belangrikste een, en is Donderdagaand opnuut uitgewys deur adv. Bruce Oppenheimer tydens ʼn webinaar van die nuwe politieke party Action SA (onder leiding van Herman Mashaba), wat ook teen die uitstel van die verkiesing gekant is.

Oppenheimer het uitgewys dat die tydsbestek van verkiesings (dat dit periodiek elke vyf jaar moet plaasvind) in artikel 1 van die Grondwet spesiaal verskans word.

Dit beteken ʼn meerderheid van 75% in die Nasionale Vergadering word vereis om die verkiesing te skuif; met die DA en die IVP daarteen sal dit dus waarskynlik nie vanjaar gebeur nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Pieter ·

Huidige verkiesingsisteem is nutteloos en is krimineel van aard. Politieke ampsdraers en kriminaliteit is dikwels sinoniem. Stemvee sorg vir hierdie toestand en keur dit goed, tesame met omgekeerde apartheid. Sal beter wees indien slegs belastingbetalers kan stem, ingesluit inkomstebelasting. Sal die anomalie kan regruk. One registered tax payer, one vote. Die huidige ‘demokrasie’ is vêr van die Griekse demokratiese model, hierdie is meer ‘n kriminele organisasie.

Jaco ·

Hou steeds die verkiesing vanjaar, tydens die pandemie en ent dan almal in wat kom stem. Ek grap nie. Dit kan werk. Maklik 2 derdes van die bevolking kan so ingeënt word.

Hennie J ·

Mal emma wil dit nou uitstel. Daar kan net een rede wees en dit is dat hulle weet daar wag n drag slae op hulle by die stembus en natuurlik sal die anc op die draad sit, want n groter drag slae wag vir hulle by die stembus, maar hulle wil dit nie openlik erken nie. Hierdie uitstel sal n grondwetlike wysiging benodig en ons moet waak daarteen. As die anc se kaders nog n paar jaar gaan regeer in meeste munisipaliteite sonder getoetste meerderheid sal daar van die huidige niks, minder as niks oorbly.

Keelvol ·

Dit gaan nie n verskil maak nie. Daar gaan bedrog plaas vind soos elke verkiesing.

Jannie van Niekerk ·

Die uitstel van die verkiesing na 2024 is net ‘n skelmstreek om langer hulle onverdiende hoë salarisse en byvoordle te kan kry. Indien hulle bereid is om vir die res van hulle termyn tot en met 2024 GEEN salaris of byvoordele te kry nie, kan hulle dit maar doen. Maar dan mag GEEN uitvoerende Politikus, LP, kabinetsld, Munisipale raadslid, kamakastige tradisionele leiers Sg jkonings en prinse) of enige ander politieke ampsdraer vir die res van die tyd ENIGE virm van vergoeding kry nie. Leinings ingesluit

JohanR ·

Weet iemand waaneer Mal-ema president geword het? Maak HY nou die reels? As dit soe is maak dadelik die kroe oop sodat ek kan gaan suip! Better nog maak die strande oop sodat hy daar kan gaan suip!

Robert ·

Nee nogmals nee… laat die vekiesing voortgaan sodat die EFF en ANC uitgedryf kan word.

4ntj13 ·

Logistiese nagmerrie? Dit verander nie juis as als saam gebeur nie. Die kano moet steeds vaar. Nou net met 3 ipv 1 of 2 bokse.
My voorstel? Vervroeg als! Leer by lande wat die proses suksesvol gerekenariseer het. Dit kan ons net goed doen om die magsbehepte spul gouer in die bek te ruk.

Semaanet ·

Duidelik weet ons nie van google forms wat elkeen met a smart foon kan laat stem en die resultaat word outomaties op a excel sheet gelys wat tel in secondes kan doen.almal wat nie a smartfoon het, of by familie kan hulp kry kan dan in a ry gaan staan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.