OVK se aanskaffing van kantoorgebou “onregverdig”

Die OVK se kantoorgebou by Riverside-kantoorpark in Centurion Foto: Oupa Mokoena, Pretoria News

Die OVK se kantoorgebou by Riverside-kantoorpark in Centurion Foto: Oupa Mokoena, Pretoria News

Die Tesourie het Dinsdag gesê die aanskaffing van ʼn kantoorpark vir die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) was nie regverdig, deursigtig of koste-doeltreffend nie.

“Adv. Pansy Tlakula, as die hoof verkiesingsbeampte en rekenmeester mnr. Du Plessis as die adjunk uitvoerende hoof van korporatiewe dienste en mnr. Langtry as bestuurder in die kantoor van die hoof uitvoerende beampte moet elk verantwoordbaar gehou word vir die rol wat hulle gespeel het,” lui die verslag. “Die aanskaffingsproses was nie regverdig, gelyk, deursigtig, kompeterend of koste-doeltreffend nie.”

Tlakula was die hoof uitvoerende beampte in die stadium toe die klag gelê is.

PriceWaterhouseCoopers het die forensiese ondersoek namens die Tesourie behartig oor die aanskaffing van die OVK se kantoorgebou by Riverside-kantoorpark in Centurion, Pretoria.

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, het in Augustus 2013 ʼn verslag vrygestel waarin sy bevind het dat Tlakula ʼn “onreëlmatige” rol gespeel het om die perseel aan te skaf. Madonsela het voorgestel dat ʼn forensiese ondersoek gedoen moet word oor die huurooreenkoms.

Tlakula het Madonsela se verslag verwerp en gesê dit bevat “feitelike foute”.

Daar was bewerings dat daar ʼn konflik van belange bestaan tussen Tlakula en Thaba Mufamadi, voorsitter van Manaka Property Investments, wat glo ʼn 20%-aandeel besit in Abland se ontwikkeling by Riverside-kantoorpark. Tlakula en Mufamadi is glo saam direkteure by Lehotsa Investments. Die OVK-aanbod is aan Abland toegestaan. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.