OVK veroordeel geweld

Verkiesing 2016. Foto: Reint Dykema

Verkiesing 2016. Foto: Reint Dykema

Die Onafhanklike Verkiesingkommissie (OVK) het hom Dinsdag sterk uitgespreek teen gewelddadige optrede wat die munisipale verkiesing teiken.

Mosotho Moepya, die OVK se hoofkiesbeampte, het gesê twee tente is Maandagnag deur ontstoke inwoners in Vryheidspark, Ekurhuleni, aan die brand gesteek. Moepya het gesê die tente is Dinsdag vervang en bykomende veiligheidsmaatreëls is ingestel.

“Die OVK veroordeel enige ontwrigting van die verkiesing en werk ten nouste saam met die SAPD om die stemproses te beskerm en onwettige optrede en oortreding van die verkiesingsgedragskode te ondersoek,” het hy gesê.

Moepya het verslaggewers ingelig oor die tweede dag waartydens spesiale stemme uitgebring is, voordat die amptelike verkiesing Woensdag plaasvind. “By stemstasies waar prosedures nie gevolg is nie, is waarskuwings aan die voorsittende beamptes uitgereik,” het hy gesê.

“In twee gevalle, waar die oortredings van die voorsittende beampte en adjunk-voorsittende beampte ernstiger was, deur onder meer mense wat nie spesiale stemreg het nie, toe te laat om ʼn spesiale stem uit te bring en nie die stembusse te beveilig nie, is beamptes onmiddellik afgedank.”

Moepya het weereens gewaarsku  ʼn foto en berigte wat die ronde doen dat twee mense in Tembisa, tussen Pretoria en Johannesburg, in hegtenis geneem is weens die besit van 80 000 stembriewe, wat reeds ten gunste van die ANC gemerk is, onwaar is. “Die foto wat saam met die gerug versprei word, is baie duidelik ʼn stembrief van die 2014 nasionale en provinsiale verkiesing. Ten spyte hiervan word hierdie verwoestende gerug steeds versprei en sommige media berig selfs daaroor,” het hy gesê.

Teen Dinsdagmiddag het die OVK gesê hulle is reg om die spesiale stemme teen 17:00 af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pierre Celliers ·

Die hoof opskrif van hierdie berig gee mens die idee Maroela aanvaar almal staan geweld voor en as iemand dit veroordeel is dit buite die norm en daarom word dit met vet letters verkondig. Hierdie berig kon heeltemal uitgelaat gewees het, niemand sou dit gemis het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.