OVK: ‘Verskeie maatreëls om stemproses te beskerm’

‘n Bord in die OVK se nasionale uitslagsentrum in Pretoria toon die voorlopige uitslae soos data van die verskillende stemlokale af inkom. (Foto: ANA)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Woensdagaand kort voor middernag nog ʼn mediakonferensie by sy nasionale uitslagsentrum in Pretoria gehou waartydens hy kiesers verseker het dat die demokratiese proses nie in gedrang gebring is tydens die sesde nasionale demokratiese verkiesing nie.

Dit kom nadat voorvalle van beweerde verkiesingsbedrog deur die loop van die dag aan die lig gekom het.

“In die lig van ernstige bewerings rakende twee moontlike voorvalle waar dubbeld gestem is, wil die verkiesingskommissie kiesers en alle ander belanghebbendes verseker van die algehele integriteit van die verkiesingsproses,” het Mosotho Moepya, OVK-kommissaris, gesê.

Moepya het verduidelik daar is verskeie beveiligingsmaatreëls in die verkiesingsproses waardeur daar vasgestel kan word indien ʼn kieser twee keer gestem het. Dit sluit in ʼn kiesersrol, wat slegs een registrasie per kieser toelaat, die skandering van identiteitsdokumente, die merk van die kieser se duim met onuitwisbare ink, asook party-agente wat elke stap van die stemproses, die tel van stembriewe en die invoer van data monitor.

Hy het gesê dié maatreëls veroorsaak dat elke kieser ʼn “voetspoor agterlaat”.

“Al hierdie aspekte laat ʼn gedetailleerde voetspoor van kieserdeelname in die proses en kan apart of in kombinasie gebruik word om voorvalle van verkiesingsbedrog te identifiseer. Waar bewyse gevind word wat op verkiesingsbedrog dui, sal die OVK die uitslae van die betrokke stemdistrik onder kwarantyn plaas en aanklagte teen die betrokke persone ingestel word,” het Moepya gesê.

Die heel eerste uitslae wat kort voor middernag ingekom het, was van die Mvomvo Lodge-kiesstasie in die Umzimbuvu-distrik in die Oos-Kaap waar slegs 21 stemme uitgebring is. Die uitslae van dié kiesstasie is nege stemme vir die ANC, sewe vir die EFF, twee stemme vir die African Transformation Movement, twee stemme vir die UDM, en een stem vir die PAC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarie Katzke ·

Nadat ek nuus gekyk het so by half een vanoggend en gesien het van die klagtes oor meervuldige stemme wat moontlik uitgebring is, het ek gewone kombuis jik geneem en die penmerk op my duim het soos mis voor die son verdwyn. Vorige jare het die kol vir ten minste ‘n week op jou duim gebly. Hier is iets nie pluis nie.

Geen Stem ·

@sarie, julle wat gaan stem het, het pleinweg julle tyd gemors. Die hele stemproses is n bedrog spul. Joseph Stalin het self gese “the people who cast the votes decides nothing, those that counts the votes decide everything .”

Pieter du plessis ·

Die mense wat nie gaan stem het nie is n skande en moet nie eers saam praat nie.

Johan ·

@Geen Stem – jy is nou een van die wat glad nie mag kla of kommentaar lewer op enige politieke kwessie in die land nie. Jy het jouself van die reg ontneem.

remondo ·

@Geen Stem – jou naam se dit alles jy het nie n reg om saam te gesels nie , as elkeen moeite doen sal daar darem iets kan gebeur.

Jordaan ·

‘n Organisasie wat versuim om die kieswet toe te pas en die BLF te verbied omdat hulle die wet oortree kan beslis vertrou word nie.

Andreas ·

Die OVK en die ANC regering is ‘n verleëntheid vir die mensdom..

Dries ·

Dit maak nie saak hoeveel maatreeëls daar is om die dubbel stemme op te tel nie , hulle kan niks doen aan die stemme wat alreeds in die stemboks ingegooi is nie .

lee ·

Verkiesingsbedrog = Aansteeklike (siekte) ?
Stemdistrik onder kwarantyn plaas..
NOU HET EK WRAGGIES ALS GEHOOR

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.