OVK volhard in besluit om BLF te deregisteer

Andile Mngxitama van BLF. (Foto: Facebook)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Maandag bevestig dat hy ten gunste van die VF Plus se appèlaansoek teen die registrasie van Black First Land First (BLF) as politieke party by die kommissie beslis het.

Dit beteken dat die Verkiesingskommissie wel BLF as politieke party gederegistreer het.

Maroela Media het vroeër berig die omstrede party se deregistrasie volg ná die VF Plus ʼn appèlaansoek teen die registrasie van BLF as politieke party by die Verkiesingskommissie ingedien het.

Die VF Plus het vroeër vandag in ʼn verklaring gesê die kommissie het beslis dat die BLF inderdaad lidmaatskap aan dié party op grond van ras uitsluit en die BLF is gevolglik as politieke party gederegistreer.

Volgens Shalane de Scánde van die OVK het die kommissie aanvanklik sy besluit verdedig om die BLF se aansoek om registrasie as politieke party in 2016 te aanvaar aangesien die party se grondwet nie wit mense uitdruklik as lede uitgesluit het nie.

“Die toelatings van die BLF in sy antwoord op die appèl het egter die posisie van die party verduidelik, naamlik om wit mense uit te sluit in lidmaatskap,” het De Scánde gesê.

“Hierdie toelating verduidelik enige dubbelsinnigheid met betrekking tot klousule 4 wat voorheen bestaan het. Dit los ook die geskil op oor die vraag of die BLF ʼn party is met ʼn grondwet wat aan hom die reg op registrasie verleen. Dit is nie. Artikel 16 (1) (c) van die Wet op die Verkiesingskommissie gee aan die hoof- uitvoerende beampte (en op appèl, die kommissie) geen diskresie nie as om ʼn aansoek om registrasie te verwerp indien lidmaatskap van ʼn party uitgesluit word op enige van die gronde kragtens subartikel (ii).

“Gevolglik is die registrasie van die BLF as party onwettig op grond daarvan dat dit kragtens artikel 16 (1) (c) (ii) van die OVK verbied en dus ongeldig is,” het die kommissie beslis.

Volgens De Scánde het die kommissie reeds aan alle belanghebbendes en partye wat geraak is, geskryf om hulle van sy besluit te verwittig.

Andile Mngxitama, BLF-leier, het vroeër vandag by navraag aan Maroela Media gesê as dit inderdaad die kommissie se beslissing is, gaan die party die besluit laat hersien. Met Maroela Media se navraag het die party nog nie van die besluit geweet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jaco ·

Ek begin al hoe meer van hierdie VF plus mense te hou! Hulle is meer binnegoed as bek! ;-)
Julle het verseker volgende keer my stem!!

CallieL ·

Grap van die jaar. Die reels was duidelik. Hoekom nou na alles die uitslag. Die land is bitterlik siek

Ai ·

Stem met jou …En wat beteken derigestreer nou eintlik …Hul maak net n ander naam oop onder n ander nog meer radikale naam en beleid! Suid Afrika is in kanon onder die lot, kyk maar na die EFF wat niks produktiefs kan bied nie net anargie en afbreek!Al wat hul die EFF het na die tafel bring is om die witman te blameer en jag vir alles…Hul het regtig niks meer as dit nie en hulle bly voort bestaan as n party….Als een groot grap! N klomp nuttelose narre wst Suid Afrika probeer regeer!

Ettienne Lombard ·

Ek stem saam CallieL. Die VF Plus moet nou ‘n klag van korruosue teen die OVK aanhangig maak.

Buffel ·

Weet nie wie die grootste narre hier is nie Andile of die OVK. Laat die VF Plus die grootmond BLF op sy neus kyk.

Ja swaer ·

Die OVK erken dus dat die BLF onwettig deelgeneem het aan die verkiesing. Hoeveel oordeelsfoute en regsdwalings het hulle nog begaan? Dalk dink daaraan om ordentlike regslui aan te stel wat hulle korrek kan adviseer

WaarsDieDuh ·

Dankie VF+. Weereens is die Duh ek bedoel DA tjoepstil. As mens mos vir niks staan nie dan hoef jy seker niks te sê nie. Dis tyd dat ons besef ons moet ons keuses mooi heroorweeg.

Andreas ·

Soveel aandag aan die BLF en die EFF wat openilk rassisme teen wit mense aanblaas het ek in my lewe nog nie gesien nie. Hoe radikaler die uitsprake hoe vryer die reklame. En dit storm net voort. Die parlement kry nie die EFF gestop nie, en die gereg ook nie een van die twee nie.

Hannibal ·

“Toelatings” moet seker “erkennings” wees. Die vertaling is maar so-so.

Reinhardt ·

Uitstekend. Lyk my ekt die regte besluit by die stembus gemaak.

JohanL ·

Die OVK se onbeholpenheid word ontbloot. Nadat ek voor die verkiesing by die OVK kapsie gemaak het teen die BLF, is dit verwerp. Nou wys die HOF dat die OVK verkeerd was. Die OVK skuld die land en sy mense ‘n verskoning. Maar natuurlik sal dit nie gebeur nie. ‘n Duidelike bewys dat daar meer by die OVK aan die gang is as wat ons besef – of ons besef dit maar kan dit nie bewys nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.