OVK-vrese oor verkiesings in ʼn tyd van koronavirus

(Foto: Twitter via @IECSouthAfrica)

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het sy kommer uitgespreek oor hoe verkiesings en tussenverkiesings tydens die grendelstaat geadministreer kan word.

Die OVK, wat soos die oorgrote meerderheid staatsdepartemente en staatsondersteunde instellings ʼn verkleinde begroting oorgehou het in die aangepaste begroting van die minister van finansies, Tito Mboweni, het vanoggend virtueel voor die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake verskyn.

Die doel van die vergadering was om vas te stel watter invloed die verkleining in die begroting sal hê op die vermoë van die OVK om sy werk te verrig en sy mandaat uit te voer.

In sy voorlegging het die OVK uitgewys dat die digitale tydvak wat tans betree is, sy eie uitdagings en geleenthede vir verkiesings bied. Daar is reeds jare lank ʼn diskoers in en met die OVK aan die gang oor die moontlikheid of stemme ook elektronies uitgebring moet kan word.

Die vorige keer dat die kwessie met formele insette deur die OVK aangehoor is, was twee jaar gelede. Toe is besluit dat ʼn digitale of elektroniese stemproses nie so betroubaar sou wees as die huidige papierproses, wat deur mense in elke stemlokaal getel word, nie.

Alle groot politieke partye het in 2018 ook ʼn elektroniese of digitale stemstelsel verwerp.

ʼn Paar maande gelede het ʼn voormalige OVK-kommissaris, Terry Tselane, egter nogmaals in ʼn koerantartikel die pot begin roer met ʼn aandrang op elektroniese stemmery, so die kwessie is nog op die tafel as ʼn moontlikheid.

Die ander groot uitdaging vir die OVK is dat die ontsmettingsmaatreëls en die vereiste sosiale distansiëring tydens die huidige grendelstaat haas onmoontlike eise aan die OVK stel.

Die hoof-verkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, het in sy voorlegging gesê voortdurende ontsmetting omdat almal by die stemlokaal aan dieselfde goed (die kiesersrol, die stembriewe, die potlode, die ID-dokumente, die oppervlaktes van die stemhokkie, die stembusse, die uitslagadvies ensovoorts) vat, gaan die stemmery baie stadiger maak want alles en almal gaan voortdurend ontsmet moet word.

Daar sal ook baie meer mense in diens geneem moet word as stembeamptes, want iemand sal die ontsmetting deurgaans moet toepas en monitor, terwyl die 1,5 m sosiale afstand baie moeilik by politieke partye se inligtingstafels en in die kiesersry gehandhaaf sal kan word, om van die maksimum van 50 mense per stemlokaal nie eens te praat nie.

Die OVK is dus in staat om voort te gaan met verkiesings, maar dit sal stadiger en duurder wees as voorheen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Trust daai OVK LOT net niks nie! Een in kop mis met die ANC om te verkul. Julle weet die munisipale verkiesing is nog 11 maande weg soe wat is die rede vir verkiesing uitstel, en elektronies stem. Jammer maar ek will na ‘n plek toe gaan waar my Book of Life na gekyk word, geskandeer word, my naam word met ‘n pen deurgetrek op die kiesings lys vir daai area, en ek kry ink op my vinger. Dan kan ek my streepie gaan trek by wie ek wil, behalwe die ANC en die EFF!

Leon ·

Hulle besef nie hulle kan makliker die elektroniese stelse manipuleer. As hulle dit uitvind, dan stem ons elektronies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.