OVK-werknemers mag nie staak nie

IECDie Onafhanklike Verskiesingskommissie (OVK) sê sy werknemers mag nie staak nie.

“Hulle word verbied om te staak aangesien hulle dienste deur die parlement as noodsaaklike dienste verklaar is,” het Kate Bapela, woordvoerder van die OVK, gesê. City Press het die naweek berig dat werknemers dreig om te staak indien Pansy Tlakula, die beleërde voorsitter van die OVK, nie uit haar pos verwyder word voor die verkiesing op 7 Mei nie.

ʼn Herrie het om Tlakula se kop losgebars nadat ʼn forensiese ouditverslag van Price­waterhouseCoopers (PwC) bevestig het dat sy betrokke was by ʼn gekonkelry om ’n nuwe kantoor vir die OVK te bekom. Die tesourie het PwC opdrag gegee om ʼn verslag op te stel nadat Thuli Madonsela, openbare beskemer, vroeër bevind het dat Tlakula verkeerdelik opgetree het.

Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), en Mamphela Ramphele, leier van AgangSA, het vroeër geëis dat Tlakula moet bedank. Malema het gesê Tlakula moet bedank ten einde ʼn “moontlike burgeroorlog te vermy.”

Die ANC het Tlakula intussen verdedig en gesê haar kwessies het nie ʼn impak op die geloofwaardigheid van die verkiesing nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.